
USB MBA-alumnus as Harvard African Fellowship-kandidaat gekies
Die USB MBA-alumnus Fatima Jakoet is as ʼn Harvard African Fellowship-kandidaat gekies vir die Program in Leierskapsontwikkeling by Harvard Business School. Hier beantwoord sy ʼn paar vrae:
1. Hoekom het jy besluit om aansoek te doen vir die Harvard-African Fellowship?
Ek is altyd opsoek na geleenthede om my leierskapsvaardighede te slyp en my kennis te verryk. Toe ek díe geleentheid verskyn om aansoek te doen, het ek gedink dis die ideale tyd vir selfontwikkeling en om ons land by ʼn vooraanstaande bestuurskool te verteenwoordig.
2. Hoe het die proses gewerk om ʼn fellow te word?
Die eerste fase is ʼn aansoekproses waar ʼn mens ʼn motiverende sowel as ʼn akademiese opstel skryf, asook motiverende briewe van twee verwysings. Kandidate word dan op die kortlys vir ʼn onderhoud geplaas. Ses fellows word jaarliks gekeur. ʼn Mens verwag dat die keuringsproses taai sal wees om finaal gekeur te word by ʼn plek soos Harvard Business School. Jou akademiese rekord en jou blootstelling en vaardighede is tot jou voordeel.
3. Hoe het jou MBA jou vir hierdie nuwe uitdaging voorberei?
Die MBA het vir my ʼn stewige platform van kennis sake-aspekte geskep. Gedurende die MBA-ervaring (ek sê altyd dat die MBA-program is nie ʼn graad nie; dis ʼn ervaring) moes ek verseker dat ek my tyd verdeel tussen oorsee vlieg, jet lag en studietyd.
4. Wat behels die Program vir Leierskapsontwikkeling?Die fokus is op leierskap, verandering en innovasie en bestaan uit vier modules, waarvan twee op die kampus is. Ek is opgewonde oor hoe die hele ervaring my gaan verander as ʼn leier en die interaksie met globale leiers.
5. Watter leiers bewonder jy en hoekom?
My waardes is geestelik gebaseer en daarom sou ek sê dat die profeet Mohammed die eerste persoon is wat ek wil uitlig. Sy geduld, deursettingsvermoë, nederigheid en etiek is prysenswaardig en nog eeue later toegepas. Wyle Nelson Mandela - die een kwaliteit ek die meeste bewonder was sy vermoë om te vergewe. Dan my ouers, en dit is moeilik om te kies watter een ek sou kies bo die ander, want hulle het elkeen verskillende sterkpunte wat mekaar as ʼn span aanvul. Hul visie, dankbaarheid, motivering en geloof in die vermoë van hul kinders en kleinkinders inspireer my voortdurend.