
US Woordfees skop af
Van vandag af sal daar van die middedorp tot Kayamandi, Cloetesville, Idasvallei en verskeie wynplase makietie gehou word soos die US Woordfees sy tema Bly, met al dié woord se gebruike, gaan uitleef in teaterproduksies, boekbesprekings, diskoerse, kunsuitstallings, rolprente, etes met skrywers, musiek vir alle smake en selfs 'n popkonsert op Coetzenburg – 'n eerste vir die fees!
Die fees het Donderdagaand (3 Maart) afgeskop met die Langtafel-geleentheid in Ryneveldstraat, waar prof Nico Koopman, die Universiteit Stellenbosch (US) se Waarnemende Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, die gaste verwelkom het.
Die uitbreiding van die fees na omliggende woonbuurte is 'n ontwikkeling waaroor Saartjie Botha, Direkteur van die US Woordfees, besonder opgewonde is.
"Behalwe dat ons wil hê die fees moet regoor die ganse dorp aangebied word, is die uitbreiding na Idasvallei, Kayamandi en Cloetesville ook 'n manier om mense uit hul gemaksones te kry. Verhoogstukke wat op literêre werke gebaseer is, doen goed op die fees, en baie daarvan is vanjaar by Hoërskool Lückhoff in Idasvallei, juis om 'n gehoor daarheen te lok. Nou dat die Klein Libertas-teater afgebrand het, is dié skoolsaal perfek – dis 'n intieme spasie en het baie goeie akoestiek.
"Amazink in Khayamandi is vanjaar 'n volwaardige venue met 'n verskeidenheid produksies. Dis ons plig om almal in die dorp in te sluit by die fees, en ons wil hê almal moet met mekaar begin praat. Want ons almal moet baat by die US Woordfees."
Vandag spring die fees weg met onder meer die bekende produksie Die gangsters, wat in die Breughel-teater in Cloetesville opgevoer word, ook om prof Benoni Dehaeck, die skrywer van dié toneelstuk, se jare lange bydrae tot dié teater en sy akteurs te vereer.
Die US Simfonieorkes, onder leiding van Corvin Matei, tree in die Endler op met die gevierde Ben Schoeman agter die klavier.
'n Ander bekende treffer, Hond se Gedagte, wat allerweë beskou word as die grootste klug van alle tye, begin sy speelvak in die Stellenbosse stadsaal, met talle oud-Maties in die rolverdeling.
Saterdag 5 Maart begin Woorde Open Wêrelde (WOW) se week lange program vir leerders, met die WOW Mediaprojek, Vers-en-verf-werkwinkels en die WOW-dag vir onderwysers.
'n Opwindende item vir sportgeesdriftiges is Saterdag se Straatmylfees in Victoriastraat waar die Dagbreek/Maties-straatmyl ter ere van De Villiers Lamprecht aangebied word. Lamprecht, 'n oud-Dagbreker, was die eerste Suid-Afrikaner om 'n droommyl op 13 November 1964 op Coetzenburg te hardloop.
Vir diegene wat besorg is oor die huidige taaltwis, is die debat oor meertaligheid in Suid-Afrika in die Khaya 'n moet. Bekroonde skrywer Carel van der Merwe praat oor sy boek oor Eugène Marais, Donker Stroom; Willem Anker, US-dosent in Afrikaans, is in gesprek oor sy boek, Samsa-masjien; en prof Mathilda Burden neem besoekers op 'n argitektoniese wandeling deur die dorp namens Stellenbosch Museum.
Sondagoggend is die opening van die kunsuitstalling Spreek die Woord/Break the Spell, wat gesamentlik by die Galery Universiteit Stellenbosch (GUS) en Oude Libertas-galery aangebied word onder kuratorskap van die oud-Matie kunstenaar, Louis Jansen van Vuuren.
Raka word by Hoërskool Luckhoff opgevoer, en Sondagaand kan jy ontspan by die Woordfees Pops op Coetzenburg.
Kaartjies is by Computicket of die Erfurthuis beskikbaar.