
US Woordfees boordensvol met boeke
Boekbesprekings en boeke is 'n kernbestanddeel van die US Woordfees, en vanjaar se verskeidenheid op die Skrywersprogram het iets om aan almal te "wys" – soos wat die fees se tema sê.
Die boekgesprekke is voorwaar boeiend: Albert Blake en Richard Steyn gesels met Fransjohan Pretorius oor Broedertwis, die vete tussen die De Wet-broers, Christiaan en Piet – Boereheld en verraaier; en in Jan Smuts: Afrikaner sonder grense word Smuts se impak op die wêreldverhoog en op sy eie land gekontrasteer.
Naomi Meyer vra prof Bill Nasson, hoogleraar in geskiedenis, uit oor sy belangstelling in die Anglo-Boereoorlog, krieket, Distrik Ses en Mandela na aanleiding van sy boek History Matters. Thys Human gesels weer met Dan Sleigh oor sy boek 1795.
Moet beslis nie oudjoernaliste se herinneringe vanuit Die Burger 100: Die mens en hul stories met Bun Booyens en Aldi Schoeman misloop nie. Herman Binge vra Elsabe Brits uit oor die vonds van Emily Hobhouse se handgeskrewe dokumentasie wat sy in Kanada gevind het vir Geliefde Verraaier.
Herman Giliomee se Outobiografie, Richard Steyn se Jan Smuts, The man and his biographer en Willem Steenkamp se Suid-Afrika se Grensoorlog bied ook baie vir geskiedlesers.
Aan spirituele of lewensveranderende boeke is daar nie 'n tekort nie – Erns Grundling se Elders, die Camino; Frits Gaum se Waar was God ... En is daar ooit 'n God?; Jurie van der Heever se Wat moet ons met die Kerk doen; asook die Geesteswêreld – perspektief op onsienlike wêreld deur Isak Burger.
ʼn Feestelike faset van die US Woordfees is die kosboeke en -demonstrasies deur bobaaskokke wat terselfdertyd feesgangers die geleentheid bied om bekende skrywers soos Peter Veldsman, met sy boek Wat die hart van vol is, van nader te leer ken.
ʼn Besondere hoogtepunt elke jaar van die US Woordfees is die viering van bekende skrywers. Vanjaar se uitsonderlike profiele is Abraham de Vries wat 80 word, Irma Joubert vier 70, Joan Hambidge word 60, Willem Fransman vier 60, en Margaret Bakkes se lewe word gevier.
Nog is het einde niet. Lina Spies bespreek haar werk Sulamiet met Andries Visagie; Tom Lanoye vra Marianne Thamm uit oor haar Hitler, Verwoerd, Mandela en Ek; Amanda Botha gesels met Marie Heese se Maestro oor die beeldhouer Bernini; terwyl Karin Brynard vir Marita van de Vyver uitvra oor haar nuwe boek, Misverstand; en Hanlie Retief meer wil weet van Ivor Price, die man agter Ivor.
Michael le Cordeur en Wannie Carstens se Dit kom van ver af lewer 'n bydrae van spesifiek bruin sprekers van Afrikaans oor die ontwikkeling van die land en taal. Ria Smuts en Nicole Strauss bied weer Die Kuns van Kortverhaalskryf waar sy ná die dood van Johan (JP) die verhale wat hul saam geskryf het, voltooi.
Akteur Tim Theron praat met spanningsverhaalkoning Deon Meyer oor sy vier Afrikaanse filmdraaiboeke, veral Jagveld waarin Theron self gesig wys.
Annelie Botes se Lugkasteel, Sally Andrew se nuutste Tannie Maria Mystery, en Jonathan Shapiro (oftewel Zapiro) se Zapiro and the right to offend, wat sy genre met ander spotprenttekenaars bespreek; dra by tot die talle lekkertes van vanjaar Boekefees.
- Besoek www.woordfees.co.za vir meer oor die Skrywersprogram.