
US vier 10 jaar van internasionale beweging deur doelgerigte vennootskappe
Studente en personeel van die Universiteit Stellenbosch (US) sal weer eens Mandeladag met verskeie projekte en inisiatiewe vier. Vanjaar is die tienjaar-herdenking van Mandeladag as ʼn internasionale beweging wat ‘n beroep doen op mense om op te tree deur kwessies rakende sosiale geregtigheid aan te pak.
Dié beroep vestig die aandag op die doelwitte van Mandeladag, naamlik om gehalte-onderrig vir alle kinders te bied, hongersnood te verlig, veilige skuiling vir gesinne te bied en veilige gesondheidstoestande in alle skole en gemeenskappe te vestig, asook om meer hulpbronne aan die uitwissing van armoede toe te wys. Dit hou alles verband met die algehele doel van die veldtog #actionagainstpoverty en die Mandeladag-leuse van “Gaan oor tot aksie. Inspireer verandering. Maak elke dag ʼn Mandeladag".
Vanjaar is die US weer verbind tot doelgerigte vennootskappe deur Mandelaweek-aktiwiteite en wil die fokus plaas op die belang van volhoubare verhoudings rakende ontwikkeling. Aktiwiteite het reeds vandeesweek begin, maar die meerderheid sal in die week van 22 Julie plaasvind. Dit behels onder meer dat die kampusgemeenskap 50 000 maaltye sal pak wat aan die groter Stellenbosch-gemeenskap geskenk sal word. Dieselfde aktiwiteit sal ook op die Tygerberg-kampus plaasvind.
Aktiwiteite op die Stellenbosch-kampus sluit in ʼn “Cook-up crew", ʼn gemeenskapsvennootskap waar US-personeel en gemeenskapslede sop sal voorberei om aan aan verskeie NRO's en vroeë kinderontwikkelingsentrums te skenk; ʼn Pink Drive- mobiele kankersiftingsdiens vir US-personeel en Jamestown-gemeenskapslede; en ʼn veldtog om sanitêre doekies en skryfbehoeftes in te samel.
Op die Tygerberg-kampus sal studente en personeel onder meer kolwyntjies verkoop om geld in te samel vir die Cupcakes for Kids with Cancer-organisasie, stories voorlees vir kinders in die pediatriese afdeling van Tygerberg-hospitaal, sop aan inwoners van die Bellville-nagskuiling verskaf, en leerders by Laerskool Kalkfontein tutor.
Die Mandelaweek-aktiwteite sal afsluit met ʼn prettige, interaktiewe gemeenskapsgeleentheid in Jamestown op Vrydag 26 Julie. Hier sal ʼn loopbaanskou, ʼn seepkis-debat gefasiliteer deur die WOW-projek, ses-aan-ʼn-kant-sokkerwedstryde en die Amazing Reading Race vir Stellenzicht-leerders gehou word, asook ʼn gemeenskapsentrepreneurskapsmark in samewerking met Ranyaka en die Jamestown Sakeforum.
Klik hier vir meer inligting oor al die aktiwiteite en om te sien hoe jy betrokke kan raak. Vir verdere inligting, kontak Michelle Pietersen (Stellenbosch) by [email protected] of Avril Whate (Tygerberg) by [email protected].