Skip to main content
US verwelkom die wêreld vir SIAN 2019

US verwelkom die wêreld vir SIAN 2019

Amanda Tongha
16 April 2019

Hoe hou ons die Universiteit Stellenbosch (US) internasionaal relevant, dog terselfdertyd toegewy aan Afrika? Hoe bevorder die Universiteit internasionale onderwys en bied personeellede en studente 'n internasionale ervaring? Na watter internasionale doelwitte streef die instelling? Dít was maar net 'n paar van die onderwerpe wat van 9 tot 12 April by die Stellenbosse Internasionale Akademiese Netwerke- (SIAN-)byeenkoms by die US bespreek is.

SIAN is 'n jaarlikse geleentheid waar die US se internasionale vennootuniversiteite byeenkom. Afgevaardigdes vanjaar het 25 vennootinstellings in 15 lande verteenwoordig, waaronder Switserland, Nigerië, die Tsjeggiese Republiek, Ghana, Finland, België, China en Duitsland.

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, het die week lange program geopen deur die internasionale gaste op kampus te verwelkom en 'n oorsig te bied van die Universiteit, veral sy visie om die voorste navorsingsintensiewe universiteit in Afrika te word. Prof Klopper het die afgevaardigdes van die US se doelbewuste klem op “die bou van akademieskap in Afrika" vertel. Sy het verder klem gelê op die kern strategiese tema om doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke te bou, en onderstreep dat Afrika die US se hoogste prioriteit bly. “Ons Suid-Suid-verhoudings is sterker as ooit vantevore, hoewel ons ook na Asië en Noord-Amerika uitbrei."

Robert Kotze, Senior Direkteur: US Internasionaal, het sy kantoor se funksie verduidelik, naamlik om die hele instelling met internasionalisering by te staan. Hy het die verskillende aktiwiteite uitgelig wat die US in sy 25 jaar van internasionalisering tot dusver onderneem het, en gesê die doel is “om volhoubare, betekenisvolle bilaterale en multilaterale alliansies, vennootskappe en samewerking ter ondersteuning van die akademiese projek te ontwikkel". Kotze het ook trots verwys na inisiatiewe soos die AU/NEPAD Suider-Afrikaanse Netwerk van Watersentrums van Uitnemendheid (SANWATCE) en die Afrikanavorsingsuniversiteitsalliansie (ARUA) se Energiesentrum van Uitnemendheid, wat albei deur US Internasionaal geadministreer word, sowel as die suksesvolle Afrika Doktorale Akademie, wat in Julie sy 10de jaarlikse Winterskool vir doktorale kandidate sal aanbied.

Die gesprekke het na die onderwerp van internasionale onderwys verskuif by 'n werksessie vir SIAN-afgevaardigdes en personeellede van US Internasionaal op Woensdag 11 April. Hier het deelnemers die US se internasionale onderwysprogramme en inisiatiewe vir “tuis-internasionalisering" van nader bekyk. Dít sluit in die program BCom Internasionale Besigheid, winter- en somerskole, sowel as ko-kurrikulêre kortkursusse wat US Internasionaal in samewerking met die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling aanbied.

Die SIAN-byeenkoms bied afgevaardigdes nie net 'n geleentheid om oor kwessies van internasionalisering te beraadslaag nie, maar ook om met eweknieë, studente en personeellede van die US om te gaan. Hulle program vir die week het ingesluit 'n Internasionale Studentemobiliteitskou, waar hulle studiegeleenthede by hulle eie instellings ten toon gestel het. Boonop het hulle Bellvilleparkkampus besoek en by die Internasionale Kosaand aan plaaslike en internasionale kookkuns gesmul.

​Dr Volfgang Melecky, die direkteur van die Internasionale Kantoor by die Tsjeggiese Tegniese Universiteit in Praag, het gesê hy is dankbaar om aan nóg 'n SIAN-geleentheid te kan deelneem. Dr Melecky sê die byeenkoms – die derde een wat hy bywoon – het hom al bande met mense van oor die hele wêreld help smee. “Die SIAN-vergadering werk nogal goed om studente na Praag te lok. Daar is besliste belangstelling."

Vir Annie Lloyd, internasionale mobiliteitsbeampte by King's College London in die Verenigde Koninkryk, was hierdie personeeluitruilkonferensie haar eerste. “Stellenbosch is goed, en so geheel en al anders as King's College. Alles is veel nader aan mekaar en geselliger, en studente voel deel van 'n familie. Dit verg nie juis veel oorreding om ons studente hierheen te stuur nie. Ons ontvang gewoonlik heelwat meer aansoeke vir Stellenbosch as waarvoor ons plek beskikbaar het. Nou kan ek teruggaan huis toe en hulle vertel hoe die koshuise lyk en waaroor die Universiteit gaan."