
US steun kostedeling en finansiële hulp aan arm studente – Rektor
Die Universiteit Stellenbosch (US) is verbind daartoe om finansiële ondersteuning te bied aan studente deur 'n gedifferensieerde finansiële ondersteuningsmodel te volg. Dit behels dat daar wel verhogings in onderrig- en akkommodasiegelde is, maar ook finansiële ondersteuning aan akademies verdienstelike, arm studente – bepaal volgens die gesamentlike jaarlikse huishoudelike inkomste.
Dit is volgens prof Wim de Villiers, US-Rektor en Visekanselier, in ʼn skrywe vroeër hierdie week aan personeel en studente. 'n Webblad is ook geskep om onderwerpe soos die kompleksiteite van befondsing in die hoëronderwyssektor, die toewysing van beurse en om terme soos "CPI" en "HOPI", beter te verstaan. Daar is ook ʼn skakel na die US se voorlegging aan die Fooiekommissie.
Die Rektor het insette van studente en personeel aangemoedig. Die e-posadres vir terugvoer is [email protected].