Skip to main content
US-Raad stel Nico Koopman en Hester Klopper as Viserektore aan

US-Raad stel Nico Koopman en Hester Klopper as Viserektore aan

Korporatiewe Bemarking / Corporate Marketing
12 Mei 2016

​Die Raad van die Universiteit Stellenbosch het by sy geskeduleerde Raadsvergadering van 9 Mei twee senior aanstellings gedoen.

Prof Nico Koopman, wat tans waarneem as Viserektor in die portefeuljes Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, is permanent aangestel in dié posisie. In die pos Viserektor: Strategiese Inisiatiewe en Internasionalisering het die Raad prof Hester Klopper, ʼn internasionaal erkende akademikus en professionele leier met uitgebreide netwerke op die gebied van gesondheid, verpleging, en gesondheidsorg, aangestel.

"Beide professore Koopman en Klopper bring bewese kennis en ondervinding na die bestuur van die Universiteit," sê prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier. "Prof Koopman dien reeds met sukses in die portefeulje en het reeds betekenisvolle bydraes gelewer wat betref sosiale impak en die interaksie met die gemeenskappe wat die US dien terwyl hy ook beduidende vordering teweeggebring het wat betref die krities-noodsaaklike transformasieproses aan die US. Daarmee saam is hy ook ideaal geposisioneer om die oorhoofse bestuur van een van die Universiteit se grootste bates, sy personeelkorps, te koördineer.

"Prof Klopper het reeds internasionaal sukses behaal met haar betrokkenheid by en bestuur van verskeie organisasies, hier en oorsee. Sy het ʼn dinamiese rekord van hoëronderwysbestuur en ek is vol vertroue dat sy die portefeulje van strategiese inisiatiewe en internasionalisering, ʼn nuwe portefeulje, met sukses gaan bestuur en ontwikkel."

Koopman sê hy is dankbaar vir die geleentheid om in hierdie opwindende, interessante en uiters uitdagende portefeulje ʼn bydrae te maak. "Die welwees van ons mense, personeel, studente en vennote is ʼn prioriteit. Goed versorgde en deeglik toegeruste mense is onontbeerlik vir die transformatiewe en vermenslikende sosiale impak wat die Universiteit Stellenbosch op alle lewensterreine, plaaslik, in die res van Afrika, en globaal wil maak."

Oor haar aanstelling sê Klopper: "Dit is vir my ʼn eer en voorreg om aangestel te word in die posisie en meer so by die Universiteit Stellenbosch. Ek sien uit daarna om deel te wees van die uitstekende bestuurspan en ʼn bydrae te lewer tot die implementering van US se Institusionele Voorneme en Strategie veral met die oog op strategiese inisiatiewe en internasionalisering. Om weer voltyds diens te aanvaar by die universiteit na betrokkenheid in die nie-regeringsomgewing vir ʼn paar jaar, voel soos tuiskoms. Voorwaar ʼn wonderlike geleentheid om ʼn verskil te maak in ʼn kritieke tyd in ons land en hoër onderwys."

Prof Nico Koopman

Koopman, wat sy loopbaan aan die US in 2001 as Senior Lektor begin het, neem reeds sedert Junie 2015 waar as Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel. In 2010 is hy aangestel in die pos van Dekaan van die Fakulteit Teologie. Hy is bekend as kerk- en akademiese leier van formaat en word in Suid-Afrika en internasionaal hoog aangeslaan. Hy is ʼn gerekende navorser en het verskeie werke oor teologies-etiese kwessies die lig laat sien, en het daarvoor verskeie toekennings ontvang, waaronder die Andrew Murray Prys vir Teologiese Literatuur.

Koopman was saam met wyle prof Russel Botha, ontslape US-rektor en Visekanselier, een van die dryfvere agter die stigting van die Beyers Naude Sentrum vir Publieke Teologie wat in die US se Fakulteit Teologie gesetel is.

Prof Hester Klopper

Klopper is die Hoofuitvoerende Beampte van Fundisa (Forum for University Nursing Deans of SA) en ʼn voormalige President van Sigma Theta Tau Internasionaal van 2013 - 2015. Sy is ʼn buitengewone professor verbonde aan die Noordwes-Universiteit en die Universiteit van Wes-Kaapland waar sy tot voor haar huidige posisie die Dekaan van die Fakulteit Gemeenskap en Gesondheidswetenskappe was. Sy is ook die hoofredakteur van IJANS (International Journal of Africa Nursing Sciences). In September vanjaar sal sy vereer word met ʼn eredoktorsgraad van Oxford Brooks Universiteit in die VK vir haar bydrae tot verpleegopleiding en -navorsing wêreldwyd.

Klopper het haar voorgraadse opleiding aan die Ann Latsky Verpleegkollege in Johannesburg, die Sterkfontein Verpleegkollege in Krugersdorp en die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) voltooi. Sy behaal haar M.Cur en PhD aan die Universiteit van Johannesburg (destyds die Randse Afrikaanse Universiteit). In 2002 voltooi sy ʼn MBA aan Luton Universiteit in die VK.

Die ander viserektore is proff Arnold Schoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig, en Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies.