
US ’n top bestemming vir internasionale studente
Die Universiteit Stellenbosch (US) se reputasie as 'n wêreldklas-instelling, die geleentheid om nuwe vriende te maak en 'n ander kultuur te ervaar is van die redes waarom internasionale studente aan Universiteit Stellenbosch (US) kom studeer.
Sowat 400 nuwe internasionale studente vanaf lande soos Duitsland, Egipte, Frankryk, Zimbabwe, Australië en die VSA, begin hulle studies by die US hierdie semester. Hulle is ingeskryf vir korttermyn en voltydse studies.
Die groep internasionale studente het die 2017 akademiese jaar begin met 'n verwelkoming en oriënteringsprogram wat vanaf 17-19 Januarie deur Universiteit Stellenbosch Internasionaal (US Internasionaal) aangebied word. Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategiese Inisiatiewe en Internasionalisering, het die groep verwelkom en inligting oor die universiteit, dorp en land gedeel.
Sy het die US se akademiese en navorsingsprestasies in haar verwelkomingstoespraak uitgelig en studente meegedeel dat die Universiteit onder die top akademiese instellings in die wêreld tel. "Ons lewer wêreldklas onderrig en navorsing en Universiteit Stellenbosch word regoor die kontinent en wêreld as top universiteit gereken." Sy het studente aangemoedig om aan US aktiwiteite deel te neem en om met mede Matie studente en mense van die dorp te skakel. "Omhels wat die dorp en stad julle bied. Neem deel en integreer," het sy hulle aangemoedig en gesê die universiteit sien uit daarna om hul gasheer te wees tydens hul verblyf in Suid-Afrika.
Onder diegene wat die verwelkoming en oriënteringsprogram bygewoon het was die Amerikaanse student Mackenzie Hennessee, wat Suid-Afrika vir die eerste keer besoek. Die student van die Universiteit van Tennessee sê sy is opgewonde om ses maande in Stellenbosch te spandeer en sien uit daarna om met mense vanuit verskillende vlakke van die sameleweing te skakel. Maximillian Seidel, 'n meestersgraad-student van Bauhaus-Universität Weimar in Duitsland, sê die US is welbekend in sy land en is 'n voorkeurbestemming vir studies in Suid-Afrika. Sy planne vir die semester sluit in 'n besoek aan die Kruger Nasionale Park en hy wil ook na Lesotho reis. Junling Hou, 'n nagraadse student van Renmin Universiteit in China, sê sy hoop om waardevolle navorsing ondervinding op te doen wat sal help met haar studies in geskiedenis.
Itumeleng Moerane, 'n meestersgraad-student van Lesotho, sê sy is aangenaam verras om te sien hoe mooi en ruim Stellenbosch is. "Die een ding wat uitstaan, is hoe vriendelik die mense is." Sy sê sy sien uit na kampuslewe, studente aktiwiteite en om haar sosiale netwerke uit te brei.
• Die Universiteit Stellenbosch het tans meer as 4000 internasionale studente, wat 122 nasionaliteite verteenwoordig. Hiervan is 57, 8% van die kontinent en 42, 2% van buite Afrika.
Foto: Hennie Rudman