Skip to main content
US FGGW keur rasisstiese voorval ten sterkste af

US FGGW keur rasisstiese voorval ten sterkste af

FMHS Dean's Management Team / FGGW-dekaan se bestuurspan
17 Mei 2022

​Beste Kollega

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) keur die kwaadwillige, kwetsende en rassistiese gedrag wat op Sondag 15 Mei 2022 in ʼn selfoonvideo vasgelê is in die Huis Marais-koshuis op die Stellenbosch-kampus ten sterkste af.

Alhoewel hierdie spesifieke voorval nie op ons kampus plaasgevind het nie, wil ons as fakulteit benadruk dat ons rassisme en geweld veroordeel en geen diskriminasie, viktimisering of boelie-gedrag (insluitend ontgroening) op ons kampusse duld nie. Ons staan saam met die Tygerberg Studenteraad (TSR) in solidariteit met ons studente en personeel teen sulke gedrag by ons instansie.

Ons is bewus van die omvattende ondersoek wat so gou moontlik die uitkoms van hierdie saak sal bepaal, en ons doen ʼn beroep dat geregtigheid so gou moontlik moet geskied.

Ons is verbind daartoe om ʼn verwelkomende, inklusiewe en transformerende omgewing in lyn met ons waardes te skep en te koester. Ons moedig personeel en studente ten sterkste aan om voort te gaan om ons te help deur enige diskriminerende gedrag binne hulle omgewings aan te meld met behulp van die beskikbare meganismes. Sulke gevalle sal streng en beslissend hanteer word.

Studente en personeel by die FGGW kan gevalle van diskriminasie of teistering by die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid aanmeld deur hier te kliek of ’n e-pos te stuur aan [email protected].

In krisisgevalle na-ure (tussen 16h00 en 08h00) kan die ER24 nooddienste geskakel word op 082 557 0880.

Vriendelike groete

Prof Elmi Muller Dekaan