
US Biblioteekpersoneel brei komberse vir Mandela-dag
Personeel van die Universiteit Stellenbosch (US) het gewys hulle gee om en is bereid om meer as net 67 minute van hul tyd af te staan vir die jaarlikse Mandela-dag. Reeds verlede jaar het personeel van die JS Gericke- en die Universiteit se vyf takbiblioteke brei- en hekelpenne nader getrek en vlytig gebrei en gehekel om blokkieskomberse te voltooi ten bate van die 67 Blankets for Mandela Day-inisiatief van die Nelson Mandela Stigting.
Altesame 1 575 gebreide en gehekelde blokkies is voltooi. Sodoende kon die US-Biblioteek- en Inligtingsdiens 25 komberse aan die inisiatief oorhandig. Dié kleurvolle kunswerke is aan weerlose vroue by die Philisa Abafazi bethu-sentrum vir vroue en kinders in Lavender Hill geskenk.
"Ons het iets baie spesiaal reggekry," sê Henriëtte Swart, Voorsitter van die Biblioteekdiens se Personeelontwikkelingskomitee.
"Almal was uit die staanspoor entoesiasties en het saam gewerk – met brei, hekel, wol skenk, blokke aanmekaar werk of selfs net om mekaar te motiveer."
Hierdie is egter nie die einde van hierdie projek nie. Swart sê daar sal weer soortgelyke projekte aangepak word aangesien dit 'n baie goeie groepsaktiwiteit vir die personeel was.
· Die US-gemeenskap beplan talle ander projekte vir Mandela-week. Personeel en studente is welkom om by enige van die projekte in te skakel en kan deur vrywilligerswerk kans kry om tot sosiale impak by te dra. Op institusionele vlak is die fokus om geleenthede rondom Mandela Dag te skep wat kan lei tot deurlopende, volgehoue vrywilligerswerk deur studente en personeel. Klik hier vir meer inligting oor die projekte.
http://www.sun.ac.za/afrikaans/Lists/news/DispForm.aspx?ID=3932
Onderskrif: Personeel van die JS Gericke biblioteek en die vyf takbiblioteke van Universiteit Stellenbosch het 25 handgebreide- en gehekelde komberse aan die 67 Blankets for Mandela Day-inisiatief van die Nelson Mandela Stigting oorhandig. Natasja Malherbe, Sheila Keet en Anneke Schaafsma het al drie ywerig deelgeneem aan die projek.