Skip to main content
US-bestuur ontvang memorandum van EFF

US-bestuur ontvang memorandum van EFF

Corporate Marketing
04 Maart 2016

Twee lede van die Bestuur van die Universiteit Stellenbosch het vanmiddag (Donderdag 3 Maart) ʼn memorandum van die EFF Student Command ontvang. Die memorandum hou verband met bewerings van viktimisasie en kriminalisering van swart studente by die Universiteit.

Die memorandum was na afloop van ʼn protesoptog aan die Universiteit oorhandig. Die organiseerders het die nodige goedkeuring van die Stellenbosch Munisipaliteit ontvang in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Universiteit Stellenbosch se Kampussekuriteit.

ʼn Groep studente wat hul dissosiasie van AfriForum uitgespreek het, het by die JS Marais-standbeeld op die Rooiplein (die sentrale kampus-plein) voor die aankoms van die protesgangers, byeengekom.

Gerugte dat die SAPD diegene wat aan die protesoptog deelgeneem het, probeer verhoed het om op die kampus te kom, is ongegrond.

ʼn Gespanne situasie het op die Rooiplein ontwikkel waar protesteerders probeer het om lede van AfriForum wat die standbeeld wou was, probeer keer het. Behalwe emosies wat hoog geloop het, het beide groepe selfbeheer getoon ten tye van gesprekke wat soms warm geraak het. Geen ernstige insidente is aangemeld nie.

Volgens inligting tot die Universiteit se beskikking, was ʼn betekenisvolle deel van diegene wat aan die aktiwiteite deelgeneem het, nie studente van die Universiteit Stellenbosch nie.

Die Universiteit kan nie reageer op bewerings van rassistiese aanmerkings op sosiale media nie aangesien geen klagtes of insidente teen laatmiddag aangemeld is nie.  Studente en personeel kan klagtes, ook anoniem indien dit so verkies word, aanmeld by die Universiteit se Eenheid vir Gelykwaardigheid by [email protected] of die onafhanklike etiekulplyn skakel by 0800 204 549. Die e-posadres is [email protected]. Die nommer van die Universiteit se Krisisdiens is 082 5570 880 – - beskikbaar vir alle studente en personeel wat berading wil ontvang.

Die Universiteit erken die reg van personeel en studente om aan protesaksie deel te neem mits die akademiese en administratiewe aktiwiteite nie ontwrig word nie; dat aksies nie risiko’s inhou vir die veiligheid van personeel en studente, of universiteitseiendom nie; en dat daar nie inbreuk gemaak word op die regte van studente om te studeer of klasse by te woon nie.