
US beoog om toonaangewende navorsingsvennoot in groenwaterstofinisiatiewe te word
Die Universiteit Stellenbosch (US) beoog om 'n toonaangewende navorsingsvennoot te word in inisiatiewe om die gebruik van groen waterstof as energiebron te bevorder.
Die Universiteit het onlangs 'n Memorandum van Verstandhouding (MoU) met Teesside Universiteit in Engeland onderteken as deel van die Suid-Afrikaanse president se onlangse besoek aan die VK, terwyl die Universiteit self ook 'n aanvanklike R12 miljoen toegewys het aan die daarstel van navorsingskundigheid op hierdie gebied.
Die ooreenkoms sit die navorsingsaktiwiteite uiteen wat Suid-Afrika sal help met tegnologie-lokalisering, sowel as industrialisasie deur die gebruik van die waterstofekonomie.
“Die hooffokus is die produksie van groen waterstof, wat geproduseer word deur elektrolise van water met behulp van hernubare energiebronne soos son- en windenergie," verduidelik prof Sampson Mampwheli, Direkteur van die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies (CRSES) aan die US.
“Die navorsingsaktiwiteite sal onder meer insluit waterstofproduksietegnologieë, waterstofomskakelingstegnologieë soos brandstofselle en gasturbines en tegno-ekonomiese ontleding van waterstofprojekte soos die produksie van waterstof vir die uitvoermark. 'n Groter fokus word geplaas op aktiwiteite gesentreer rondom die rondom die “hydrogen valley" soos voorgestel in die Hydrogen Society Roadmap wat vroeër vanjaar deur die Kabinet goedgekeur is."
Mamphweli het prof Sibusiso Moyo, die US se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, by die geleentheid verteenwoordig wat ook deur dr Blade Nzimande, die Suid-Afrikaanse Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie en ander hooggeplaastes van die Suid-Afrikaanse Departement van Wetenskap en Innovasie bygewoon is. Prof Steve Cummings, die Pro-Visekanselier (Navorsing en Innovasie) het Teesside by die ondertekeing by die House of the Lords verteenwoord.
Die Britse en Suid-Afrikaanse regering sal albei hulpbronne beskikbaar stel om die MoV te inisieer. Dit sal lei tot die lokalisering van waterstoftegnologie soos bepaal deur Suid-Afrika se waterstofsamelewingpadkaart (Hydrogen Society Roadmap). Die Britse regering het reeds finansiële steun in die vorm van onderstandsgeld gedurende president Ramaphosa se besoek aan Brittanje belowe. Die onderstandsgeld sal Suid-Afrika help om die waterstofplanne te inisieer.
Hierdie geleentheid was een van talle geleenthede en ooreenkomste wat Suid-Afrika en Brittanje bereik is gedurende president Ramaphosa se staatsbesoek aan Brittanje.
Moyo sê die US is verheug om saam met Teesside-Universiteit en ons streeks- en nasionale vennote te werk om volhoubare oplossings vir die energiekrisis te vind. “Danksy sy Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Engergiestudie, spog die Universiteit Stellenbosch met 'n indrukwekkende navorsingsgeskiedenis oor hernubare energie. Navorsing oor groen waterstof sal onder meer bestaande navorsing oor son- en windenergie aanvul."
Die twee instellings sal ook met ander instellings meewerk wat werk op die gebied van waterstof in hul onderskeie lande doen. Teesside-Universiteit beplan medewerking met onder meer Durham-Universiteit, terwyl die US medewerking met instellings soos die Durbanse Universiteit van Tegnologie, die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, Noordwes-Universiteit en die Universiteit van Kaapstad, Venda en die Wes-Kaap, asook die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) beplan.
Investering
Prof Craig McGregor, Medeprofessor in die US se Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese, sê die ontwikkeling van groenwaterstoftegnologie het die hoogste ondersteuning binne die Universiteit. “Meer as R12 miljoen oor die volgende drie jaar is aan die Fakulteit Ingenieurswese toegeken om wêreldklasnavorsing op hierdie gebied te vestig. Die befondsing sal die aanstelling van 'n deeltydse direkteur, programbestuurder en drie tot vier nadoktorale genote dek, en 'n bydrae om studente- en personeelnavorsingsprojekte te befonds. Die navorsing sal op drie areas gefokus word: Eerstens, nuwe tegnologie-ontwikkeling, soos fotokatalitiese waterstofproduksie en waterstofberging. Tweedens, tegnologie-intelligensie en stelselingenieurswese wat sal bestudeer hoe om die beskikbare waterstoftegnologieë binne die Suider-Afrikaanse en globale konteks die beste toe te pas. En laastens, tegnologiedemonstrasie en -ontplooiing vir tegnologieë wat die tegnologie-intelligensie-stadium geslaag het."
Die Universiteit sal voortgaan om verdere bronne van investering vir die navorsing te ontgin en te ontwikkel.