
US-alumnus Kelly Fairweather aangestel as ITF-bedryfshoof
Die Internasionale Tennisfederasie (ITF) het aangekondig dat Kelly Fairweather, 'n alumnus van die Universiteit Stellenbosch (US), op 1 Januarie 2017 diens aanvaar as die organisasie se Bedryfshoof. Hy neem die leisels oor by Juan Margets. Fairweather is tans die voorsitter van die Internasionale Hokkiefederasie.
Fairweather het sy meestersgraad in Menslike Bewegingkunde aan die US in 1991 verwerf nadat hy sy honneursgraad in 1988 cum laude geslaag het.
Hy het voorheen gedien as die Internasionale Olimpiese Komitee se sportdirekteur vanaf 2003-2007, was die voorsitter van die Universiteit Stellenbosch se Sportprestasie Instituut (SUSPI) vanaf 2007-2008 en was tussen 2009-2010 die direkteur van die World Anti-Doping Agency by hul Europese kantoor.
"Die ITF is opgewonde dat Kelly by ons aansluit in die rol van Bedryfshoof," sê ITF president David Haggerty in 'n verklaring beskikbaar op die organisasie se webtuiste.
"Kelly se uitgebreide ervaring op Olimpiese gebied asook sy fyn kennis van die uitdagings wat internasionale federasies in die gesig staar, het hom die perfekte kandidaat gemaak om die ITF se missie om tennis wêreldwyd te ontwikkel en te bevorder, te verwesenlik."