Skip to main content
Uitgelese US-akademikus vereer met Leeftyd-toekenning

Uitgelese US-akademikus vereer met Leeftyd-toekenning

FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Susan Erasmus
28 Oktober 2021

Professor Faadiel Essop, direkteur van die Sentrum vir Kardiometaboliese Navorsing in Afrika (CARMA) aan die Universiteit Stellenbosch, het onlangs die Fisiologievereniging van Suider Afrika (PSSA) se Leeftyd-toekenning ontvang ter erkenning van sy bydrae op die gebied van fisiologiese wetenskappe.

Sy lang en indrukwekkende loopbaan dui op betrokkenheid op beide 'n internasionale en nasionale vlak.

Hy is die voormalige president van die PSSA, die huidige president en voormalige vise-president van die Afrika-vereniging vir Fisiologiese Wetenskappe (African Association of Physiological Sciences - AAPS) en lid van die Raad van die Algemene Vergadering van die Internasionale Unie vir Fisiologiese Wetenskappe (International Union of Physiological Sciences - IUPS).

"Die AAPS is daarop uit om die vermoë van fisioloë en basiese mediese wetenskaplikes in Afrika te ontwikkel, om die aandag te vestig  op die jongste verwikkelinge in fisiologiese wetenskappe, en om die vakgebied op kontinentale en internasionale vlak te bevorder," sê Essop.

"Om dit te bewerkstellig, reël die AAPS gereelde netwerkgeleenthede vir fisioloë in Afrika, soos byvoorbeeld kongresse en werkswinkels vir onderrig en leer in die vakgebied. Die vereniging skakel ook gereeld met internasionale verenigings, soos die IUPS, om fisioloë uit Afrika te verteenwoordig. Die AAPS beywer hom om die vakgebied dwarsoor die vasteland te bevorder."

Essop het sy doktorsgraad in Chemiese Patologie aan die Universiteit van Kaapstad voltooi en daarna 'n BA (Hons)-graad in Arabiese studies aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf. Essop was ook 'n Fulbright-genoot aan die Universiteit van Texas-Houston se Mediese Skool in Texas in die Verenigde State, en is tans 'n aangeslane navorser by die Nasionale Navorsingsinstituut (NRF).

Essop is tans die voorsitter van die Navorsingsraad van die SA Hart-en-beroertestigting en die SA Nasionale Komitee van die IUPS.

Hy is 'n onlangse ontvanger van die Universiteit van Stellenbosch se Toekenning vir Uitnemende Onderrig en is tans 'n genoot van die Vereniging vir Onderrigbevordering aan Universiteite (Teaching Advancement at University-TAU). Die doel van die TAU-program is om 'n kerngroep op te bou van leiers op die gebied van leer en onderrig wat as rolmodelle kan dien, en wat ook hierdie twee belangrike aspekte binne hulle instellings sal bevorder.

Die PSSA Leeftyd-toekenning

Hierdie gesogte toekenning, “betoon eer aan 'n gevestigde, fisioloog wie se uitnemendheid in hulle navorsingsgebied oor 'n lang tydperk bewys is. Die ontvanger moet 'n hoë profiel op nasionale vlak hê, ook internasionale erkenning geniet, en moet waarde toevoeg tot die samelewing deur middel van innovering op navorsingsgebied. Die persoon moet ook 'n aktiewe bydrae lewer by die PSSA-kongres met betrekking tot hulle eie navorsing, of die van hulle studente, en moet daarop gemik wees om kritiese denke en bespreking te bevorder," volgens die PSSA-webwerf.

Doelstellings as president van die AAPS

Tydens sy ampstermyn as president van die AAPS is hy van voorneme om die vakgebied van fisiologie oor die hele vasteland van Afrika verder op te bou.

"My visie is om uit te reik na die Franssprekende lande op die vasteland om sodoende 'n meer inklusiewe organisasie te vestig. Boonop sal ons probeer om netwerke te versterk deur 'n unieke databasis van alle Afrika-fisioloë te skep. Dit moet verbeterde netwerkgeleenthede en gesamentlike werkswinkels en projekte moontlik maak op die gebied van biomediese navorsing en die studie van onderrig en leer," sê Essop.

"Daarbenewens is hy ook van voorneme om aansienlike klem te lê op die bied van geleenthede vir nagraadse studente, en ook om die volgende generasie van leiers in die vakgebied te versterk."

"Die posisie van die president van die AAPS is van kritieke belang," volgens professor Hans Strijdom, hoof van die Afdeling Geneeskundige Fisiologie aan die Universiteit Stellenbosch. "Dit is veral die geval, aangesien die AAPS die belangrikste en mees verteenwoordigende liggaam op die gebied van fisiologie op ons vasteland is."