Skip to main content
TygerMatie neem deel aan Parlementêre Wêreldbeker-rugbytoernooi

TygerMatie neem deel aan Parlementêre Wêreldbeker-rugbytoernooi

Mandi Barnard
27 Januarie 2016

Hierdie artikel het in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se digitale publikasie, VIVUS, verskyn. Besoek www.sun.ac.za/FGGWpublikasies om in te teken.

Mnr Tienie Petersen, die President van Tygerberg-sport, is ingesluit by die Parlementêre rugbyspan wat Suid-Afrika verlede jaar by die Parlementêre Wêreldbeker-rugbytoernooi in Londen verteenwoordig het.

Hierdie toernooi vind gewoonlik kort voor die amptelike Wêreldbeker-rugbytoernooi oi plaas en 300 politici het vanjaar hulle onderskeie Parlemente verteenwoordig. Engeland, Ierland, Frankryk, Japan, Wallis, Australië en Nieu-Seeland was onder die deelnemende lande.

Die Suid-Afrikaanse span het Wallis in hulle eerste wedstryd kafgedraf met ʼn oorwinning van 64 - 0 en daarna het hulle die Engelse span met ʼn eindtelling van 17 - 0 gewen. Hulle het in die finale wedstryd teen die Australiese span vasgeval.

Petersen speel al vir die afgelope drie jaar vir die Suid-Afrikaanse Parlementêre span. Hierdie span neem ook aan plaaslike klubtoernooie deel in die ouderdomsgroep 35 jaar en ouer.

“Ek was baie opgewonde toe ek by die Wêreldbekerspan ingesluit is, omdat ek Suid-Afrika in my gunstelingsport kon verteenwoordig. Ek het al vir die Westelike Provinsie en Suid-Afrika binnenshuise krieket gespeel, maar hierdie was verseker die hoogtepunt van my sportloopbaan,” het Petersen gesê.

Spanne is geregtig om vier spelers wat nie by die Parlement werksaam is nie by die span in te sluit. “Ek voel baie geëerd dat ek een van die vier mans is wat gekies is, maar glo dit is omdat ek ʼn toegewyde speler is en elke oefening en wedstryd bywoon,” het Petersen gesê. “En natuurlik moet mens kan rugby speel ook,” het hy met ʼn skewe glimlag bygevoeg.

Foto: Mnr Tienie Petersen