Skip to main content
TygerMatie met groot hart is nuwe Mej Varsity Cup

TygerMatie met groot hart is nuwe Mej Varsity Cup

Sue Segar
15 April 2019

Ayabonga Zantsi, die finalejaar- arbeidsterapiestudent wat as Mej. Varsity Cup 2019 gekroon is, gaan haar platform gebruik om gemeenskapsprojekte te bevorder waarby sy reeds betrokke is.

Een van hierdie projekte waartoe sy en ander lede van die Varsity Cup-groep reeds bydra, is die Steadfast- veilige huis vir vroue en kinders wat slagofers van huishoudelike geweld is.

“As Mej. Varsity Cup is ek in ʼn veel sterker posisie om te help borge vind, geld in te samel en ander mense betrokke te kry om die inwoners van die veilige huis en in die wyer gemeenskap te help," het Zantsi in ʼn onderhoud gesê.

Die veilige huis, waarvan die adres in Stellenbosch nie bekend gemaak word nie, huisves en versorg vroue en kinders vir drie maande. Gedurende hierdie tyd beoefen hulle aktiwiteite wat hulle in staat stel om hul praktiese vaardighede te verbeter. Die projek is sowat twee jaar gelede van stapel gestuur en deur vorige Varsity Cup-groepe van Maties voortgesit.

“Ek wil hierop voortbou deur meer werksessies aan te bied en die lys praktiese vaardighede te verleng wat onderrig word," het Zantsi gesê.

“Ons probeer hulle soveel as moontlik opbou sodat hulle hul vaardighede kan gebruik om iets produktiefs te doen wanneer hulle die veilige huis verlaat," vertel sy. “Ons help hulle om hul CV voor te berei, onderrig hulle in selfverdediging en probeer hulle die nodige vaardighede aanleer sodat hulle die beste onder die omstandighede kan wees."

Zantsi (21) is onlangs gedurende die rugbywedstryd tussen Maties en die Universiteit van Wes-Kaapland as Mej. Varsity Cup gekroon.

“Ek was verras om die titel te verower, maar ook baie gelukkig en trots," het sy gesê.

Sy is ʼn boorling van King William's Town in die Oos-Kaap en het vier jaar gelede by die Universiteit Stellenbosch kom studeer.

Sy is mal oor die buitelug en glo in oefening en om fiks te bly. Sy is op haar gelukkigste wanneer sy voetslaan, kampeer of aan veldlope deelneem. “Die Kaap is die perfekte plek om alles te geniet wat die natuur bied. Ek is ook mal oor die kultuur, kuns en modes waaraan ek hier blootgestel is. Ek is baie lief vir modes, grimeermiddels en liefdadigheidsinkopies."

Volgens Zantsi het sy ʼn loopbaan in arbeidsterapie gekies weens haar volgehoue belangstelling in gesondheid en geneeskunde en om met mense te werk.

“Talle van die mense met wie ons werk het liggaamlike en psigiatriese gesondheidsprobleme. Ons werk baie in hospitale, skole en gemeenskapsentrums, gewoonlik met mense uit ʼn armer agtergrond. Ek is mal daaroor dat ons mense deur ons werk hoop bied. Dit is so bevredigend."

Zantsi sien uit na ʼn lang loopbaan in arbeidsterapie, maar wil ook by navorsing betrokke bly. Sy wil konferensies wêreldwyd bywoon – en toespreek – met die doel om wêreldgesondheid te bevorder.