Skip to main content
Twee FGGW-wetenskaplikes sluit by geledere van A1-gegradeerde navorsers aan

Twee FGGW-wetenskaplikes sluit by geledere van A1-gegradeerde navorsers aan

FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie
13 April 2022

Twee voortreflike navorsers aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) is onlangs by die Nasionale Navorsingstigting (NNS) se prestigeryke lys van A1-gegradeerde wetenskaplikes gevoeg.

A1-graderings is gedurende die jongste ronde van NNS-graderings aan profs Mark Cotton (Departement Pediatrie en Kindergesondheid) en Robin Warren (Afdeling Molekulêre Biologie en Menslike Genetika) toegeken. Warren, wat voorheen ʼn B2-gradering gehad het, sluit aan by Cotton (wat voorheen ʼn A2-gradering gehad het) en profs Elmi Muller (Dekaan van die FGGW) en Simon Schaaf (Departement Pediatrie en Kindergesondheid) op die lys van A-gegradeerde navorsers by die FGGW.

A-gegradeerde navorsers word onomwonde deur hul eweknieë as vooraanstaande internasionale vakkundiges in hul onderskeie velde vir die hoë gehalte en impak van hul onlangse navorsingsuitsette erken.

Benewens Cotton en Warren het nog 15 FGGW-navorsers nuwe NNS-graderings ontvang of is hergradeer, wat die FGGW se totaal van gegradeerde wetenskaplikes op 97 te staan bring.

Ingevolge die NNS se graderingstelsel word individue wat die hoogste standaarde in navorsing handhaaf, asook diegene wat baie potensiaal as navorsers toon, deur 'n uitgebreide netwerk Suid-Afrikaanse en internasionale eweknie-beoordelaars geïdentifiseer. Graderings is gegrond op die gehalte en impak van onlangse navorsingsuitsette (oor 'n tydperk van agt jaar).

Vyf navorsers het in die jongste ronde ʼn B-gradering ontvang, wat die FGGW se totaal van B-gegradeerde wetenskaplikes op 13 te staan bring. B-gegradeerde wetenskaplikes geniet aansienlike internasionale erkenning van hul eweknieë vir die hoë gehalte en impak van hul onlangse navorsingsuitsette. Die nuwe B-gegradeerde wetenskaplikes aan die FGGW is profs Wayne Derman (Instituut vir Sport en Oefeninggeneeskunde), Quinette Louw (Departement Gesondheids- en Rehabilitasiewetenskappe), Susan van Schalkwyk (Sentrum vir Gesonheidsberoepe-onderrig), Adrie Bekker (Departement Pediatrie en Kindergesondheid) en Novel Chegou (Departement Biomediese Wetenskappe).

Die FGGW spog voorts met 59 C-gegradeerde wetenskaplikes, waarvan tien so pas aangewys is. C-gegradeerde wetenskaplikes is gevestigde navorsers met ʼn volgehoue onlangse produktiwiteitsrekord in hul onderskeie velde en word deur hul eweknieë erken vir 1) ʼn werkportefeulje van gehalte, waarvan die kern koherensie toon en van voortgesette interaksie met die veld getuig; en 2) die vermoë om probleme te konseptualiseer en navorsingsmetodes toe te pas om dit te ondersoek.

Die FGGW-navorsers wat by die geledere van C-gegradeerde wetenskaplikes aangesluit het, is profs Andre van der Merwe (Afdeling Urologie), Rajiv Erasmus (Departement Patologie), Susan Hanekom (Afdeling Fisioterapie), Franclo Henning (Afdeling Neurologie), Xikombiso Mbhenyane (Afdeling Menslike Voeding), Lana van Niekerk (Departement Gesondheids- en Rehabilitasiewetenskappe), Annie Zemlin (Afdeling Chemiese Patologie) en Ekkehard Zöllner (Departement Pediatrie en Kindergesondheid), asook drs Yolandi Brink (Afdeling Fisioterapie) en Sharain Suliman (Departement Psigiatrie).

Benewens die FGGW se A-, B- en C-gegradeerde wetenskaplikes, spog die Fakulteit ook met 18 Y-gegradeerde wetenskaplikes. Dit is jong navorsers (40 jaar of jonger) wat binne vyf jaar nadat hulle ʼn doktorsgraad of ʼn gelykwaardige kwalifikasie verwerf het, die potensiaal getoon het om hulle binne vyf jaar ná die NNS-aansoek as navorsers te vestig, gegrond op hul prestasie en die lewering van navorsingsuitsette van gehalte gedurende hul doktorale studies en/of vroeë na-doktorale loopbane.

“Ons is geweldig trots op ons navorsers en hul prestasies, insluitende die talle nuut gegradeerde wetenskaplikes in die Fakulteit, wat twee nuwe A1-gegradeerde navorsers insluit. Hierdie prestasie getuig van die navorsing van wêreldgehalte wat by die FGGW gedoen word. Die getal NNS-gegradeerde navorsers het meer as verdubbel sedert 2014 (toe daar slegs 37 gegradeerde navorsers in die FGGW was). Dit is ʼn aanduiding van die aansienlike groei in navorsing wat oor die afgelope paar jaar onderneem is, asook van ons vermoë om die beste wetenskaplikes in Suid-Afrika en die res van die wêreld te lok," het prof Nico Gey van Pittius, Vise-dekaan: Navorsing en Internasionalisasie, gesê.

In haar kommentaar oor die jongste resultate het dr Therina Theron, Senior Direkteur: Navorsing en Innovasie van die US, gesê die NNS-graderingsproses bly ʼn baie belangrike aanwyser van die internasionale erkenning van die US se navorsers. “Met nog wat kom, getuig ons groter wordende poel navorsers van die reuse-bydrae wat ons navorsers lewer tot die US se visie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees. Ons bring hulde aan hulle en ons vier hulle!"

Onderskrif: (Bo links na regs) Professors Quinette Louw, Mark Cotton en Rob Warren. (Onder links na regs) Professors Adrie Bekker, Wayne Derman, Susan van Schalkwyk en Novel Chegou.