Skip to main content
Tuiskoms 2017 'was fantasties'

Tuiskoms 2017 'was fantasties'

Alumni-betrekkinge / Alumni Relations
09 Maart 2017

ʼn Musiek-extravaganza, ʼn terugblik op daardie bekende klasdae met ons "Terug Klas Toe"-lesings, klasreünies, ʼn pretdraf en bergfietservaring vir sportentoesiaste en ʼn hele aantal Woordfees-vertonings. Dit was net ʼn paar van die spesiale geleenthede vir alumni tydens die Universiteit Stellenbosch (US) se tweede jaarlikse Tuiskoms- en Familienaweek vir 2017 wat vanaf 2 tot 6 Maart op die Stellenbosch-kampus gehou is.

"Dit was fantasties – daar is niks beter as om alumni terug te verwelkom na die plek wat hul toekoms help vorm het nie. Vanjaar se Tuiskoms- en Familienaweek het Maties die geleentheid gegee om weer ʼn slag by hul alma mater te kom kuier, weer bande te bou met ou vriende en klasmaats en om die goeie ou dae van studentwees te herleef. En dit wou voorkom asof dit presies is wat hulle gedoen het," sê Shaun Stuart, Bestuurder: Alumni-betrekkinge.

"Ons het selfs ʼn paar besoekers gehad wat in 2016 vir ons heel eerste Tuiskomsnaweek hier was. Hulle wou seker maak hulle loop nie die 2017-geleentheid mis nie," voeg hy by.

Die Alumni-kantoor het weer kragte gesnoer met die US Woordfees , die Universiteit se literêre en kunsfees, wat al ʼn instelling geword het sedert sy ontstaan in 2000. Hierdie vennootskap het beteken dat alumni geregtig was op ʼn spesiale afslag vir geselekteerde Woordfees-vertonings. 

Die Tuiskomsnaweek het op ʼn hoë noot afgeskop met ʼn konsert by Coetzenburg waar gewilde Suid-Afrikaanse musikante musiek deur Queen, Abba, Barbara Streisand en Tina Turner asook ʼn paar klassieke gunstelinge opgevoer het. Sangers het onder andere Corlea, Jannie Moolman, Emo Adams, Timothy Moloi en Lindiwe Bongani ingesluit. ʼn Spesiale Tuiskoms BBP-area is ook opsygesit vir alumni, waar prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, die amptelike verwelkoming behartig het.

Vir ʼn bietjie serebrale stimulasie was daar die "Terug Klas Toe"-fakulteitspraatjies. Onderwerpe het gewissel van die stand van ons ekonomie en loopbaankeuses in 2050, die impak van tegnologie op leeromgewings, die verouderingsproses en of jy regtig Botox nodig het, korrupsie en wat jy daaraan kan doen, en geneties gemodifiseerde voedsel.

Sportentoesiaste kon ook die asemrowende natuurskoon by Coetzenburg geniet terwyl hulle deelneem aan die Tuiskoms Veldtrap met Woorde-wedloop vir ʼn 18 km- of 35 km-bergfietservaring of ʼn 6 km- of 12 km-pretloop/-draf.

Moenie Tuiskoms 2018 tydens die Universiteit se eeufeesvieringe misloop nie!