Skip to main content
Trae sojaboonproduksie kan ‘n hupstoot kry

Trae sojaboonproduksie kan ‘n hupstoot kry

Engela Duvenage
25 Februarie 2022

​Die Suid-Afrikaanse sojaboonbedryf het broodnodige impetus nodig – maar om opbrengste wesenlik te verbeter sal boere 'n paar kopskuiwe moet maak oor hoe hulle hul gewasproduksiestelsels en grond hanteer. Dit is die boodskap in 'n onlangse artikel in die vaktydskrif Agronomy Journal, geskryf deur dr Stephano Haarhoff, 'n agronoom werksaam vir Yara Africa Fertilizer, en dr​ Pieter Swanepoel van die Departement van Agronomie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Die artikel is deel van 'n spesiale afdeling in die internasionale vaktydskrif waarin kenners besin oor die kort- tot medium-termyn probleme wat 'n stokkie voor voedselsekerheid op 'n streeksvlak kan steek. Daarin bied die twee agronome 'n oorsig oor hoe die Suid-Afrikaanse sojaboonbedryf tans daaruit sien, die praktyke wat in plek is en tekortkominge rondom navorsing.

Sojaboonproduksie het oor die afgelope twee dekades wêreldwyd gestyg – maar nie in Suid-Afrika nie. Dis ten spyte van die vrystelling van verbeterde sojaboonkiemplasma en modern onkruiddoder in onlangse jare. Plaaslik word sojabone onder droëland-toestande verbou.

Volgens die Voedsel en Landbou-organisasie (FAO) se 2020-statistieke het die totale sojaboonproduksie in Suid-Afrika wel van 1680 kg per hektaar tussen 2001-2010 tot 1730 kg per hektaar tussen 2011 en 2019 gestyg. Hierdie verbeter word egter toegeskryf aan die gebruik van meer grondgebied, eerder as aan groter opbrengste.

“Moderne agronomiese praktyke word nog nie tot dieselfde mate in Suid-Afrika gebruik as wat dit in talle van die wêreld se beste sojaboonproduserende lande die geval is nie. Dis jammer, want die land het die potensiaal om wesenlike, volhoubare opbrengste te kan lewer. Dit sal van waarde vir plaaslike produsente wees as hulle oorweeg om hul grond minder te bewerk, die gebruik van voedingstowwe slimmer te bestuur, en 'n verskeidenheid van opsies rondom gewasrotasie te oorweeg," reken drs Haarfhoff en Swanepoel.

Regoor Suid-Afrika se grootste sojaboonproduksiegebiede word opbrengste belemmer deur afwisselende reënvalpatrone, hoë temperature, grootskaalse verdamping en die verdigting van grond.

Maniere om opbrengs en produksie te verbeter

In Agronomy Journal wys die twee kenners dat opbrengste en produksie verbeter kan word deur:

  • Stikstofbemesting reeds vroeg in die seisoen toe te dien indien die stikstofinhoud van grond laag is;  
  • Sojabone in te sluit by boerderystelsels waarin mielies primêr verbou word. Dit moet verkieslik afgewissel word met ander gewasse of dekgewasse wat vir weiding gebruik kan word. Sodoende brei die verskeidenheid van gewasse wat in wisselboustelsels uit.
  • Gewasproduksiepraktyke te gebruik wat hoë volumes afloopwater en verdamping beperk. Dit sal byvoorbeeld baat om meer oesreste op die lande te los nadat mielies geoes is, of om vee toe te laat om slegs gedeeltelik te bewei aan die oesreste;
  • Grond minder intensief te bewerk, byvoorbeeld eerder minimum- of geenbewerking te gebruik. Sodoende kan die grondstruktuur en volume van organiese materiaal daarin verbeter, wat positiewe gevolge kan inhou wanneer droogtes, hittegolwe en ander omgewingstressors voorkom.
  • Gediversifiseerde produksiestelsels te oorweeg, en vee te gebruik om onkruid en die voorkoms van siektes op 'n geïntegreerde manier te beheer;
  • Die beweging van voertuie oor 'n stuk land te beperk, en waar moontlik die verdigting van grond te beperk. Oorweeg die gebruik van moderne planters en/of presisietegnologie wat die uniforme saad- en voedingstofplasing verbeter.
  • Sanderige grond wat reeds etlike jare geensins of minimaal bewerk word, strategies te bewerk. Sodoende kan die verdigting van grond teengewerk word. Die strategiese gebruik daarvan sal nie noodwendig lei tot verlaagde produksie nie. Hou egter sekondêre gevolge soos erosie weens wind en water in gedagte nadat grond bewerk is. 

Meer plaaslike data en navorsing nodig

“Juis omdat hulle oor die jare heen wisselvallige opbrengste gekry het, is boere skrikkerig oor hoeveel stikstofbemesting om te gebruik, en wanneer om dit toe te dien. 'n Groot probleem is die gebrek aan plaaslike wetenskaplike kennis wat lig hierop kan werp. As ons dit kan aanspreek, kan ons begin om baie onsekerhede hieroor by boere en agronome uit die weg te ruim," reken dr Haarhoff.

“Ons kort pasklaar bestuurspraktyke en riglyne wat aangepas kan word tot 'n spesifieke boerderystelsel se behoeftes. So kan ons uitdagings wat elke plaas ervaar afsonderlik aanspreek, en help om grond te verbeter en die toestande waaronder gewasse groei."

Elke boerderystelsel is uniek, met die heersende grond- en klimaatstoestande en die behoeftes van die produsent wat bepalend is. Daarom moet studies gedoen word wat die voor- en nadele van verskillende agronomiese beginsels en stelsels (byvoorbeeld bewaringsboerdery teenoor konvensionele grondbewerking) opweeg in verskillende produksiestreke in Suid-Afrika. 

Meer studies is byvoorbeeld nodig om:

  • Vas te stel wat die optimale peil en tydsberekening vir die gebruik van stikstof, kalium en fosfaat as bemesting is, en hoe dit sou verskil tussen die oostelike en westelike sojaboonproduksiegebiede van Suid-Afrika;
  • Te verstaan hoe bewaringslandboupraktyke (byvoorbeeld geenbewerking, permanente grondbedekking en 'n gediversifiseerde gewasproduksiestelsel met of sonder vee) versus konvensionele bewerking (waarin die grond versteur word deur tandoopmakers op planters te gebruik en baie min grondbedekking) die potensiaal van 'n bemestingsprogram in die wiele kan ry. Studies moet ook gedoen word om te bepaal watter invloed die chemiese samestelling van grond, die wedersydse interaksie en funksionering tussen mikrobes, grond en plante en die grond-water verhouding het op die sukses van elkeen van hierdie praktyke; en
  • Te bepaal hoe bemestingsbestuursprogramme aangepas moet word volgens die behoeftes van verskillende boerderystelsels. 

Uitdagings

'n Groot uitdaging vir boere in die westelike produksiegebied is om grondbedekking te verseker om die grond te bewaar, en ook verdamping sover moontlik te keer.

“Hierdie gebied, wat noordelike dele van Noord-Wes en sentraal-Vrystaat insluit, ontvang 90% van sy jaarlikse reën tussen Oktober en Maart. Dié somermaande oorvleuel met die groeiseisoen van sojabone. Water is seker die mees beperkende faktor as dit by sojaboonopbrengste kom," sê drs Haarhoff en Swanepoel.

Hael bly 'n probleem vir die  oostelike produksiestreek, wat Gauteng, die oostelike dele van die Vrystaat en groot dele van Mpumalanga en Limpopo insluit. Vroeë ryp plaas ook 'n demper op opbrengste in die oostelike gebiede, asook die KwaZulu-Natalse streek.

Drs Haarhoff en Swanepoel reken boere wat oorwegend met mielies boer kan nie verkeerd gaan om ook sojabone by hul produksiestelsels te voeg nie. Dit doen meer as net om gewasopbrengste te verhoog.  Sodoende kan produsente ook die maniere wat hulle gebruik om onkruid te beheer afwissel, byvoorbeeld die gebruik van onkruiddoder en die tydsberekening van grondbewerking. Dit gooi siekte- en pessiklusse om. Danksy biologiese stikstofbinding verbeter die stikstofinhoud van grond. Die gebruik van dekgewasse in mielie-sojaboonrotasiestelsels verbeter die opbou van organiese materiaal in die grond. Dit verskaf meer as genoeg plantmateriaal as veevoer. Dit kan ook as grondbedekking tussen-in kontantgewasse gebruik word.

“'n Verskeidenheid van aanpasbare opsies is nodig om boere, gewaskundiges en navorsers te kan lei om alternatiewe agronomiese bestuursopsies te oorweeg sodat sojaboonopbrengste op die lange duur kan verbeter en stabiliseer. Ons het sulke opsies nodige om moeilike groeitoestande, soos langdurige droogtes, hoë temperature en ons arm grond wat so maklik kompakteer die hoof te kan bied," sê drs Haarhoff en Swanepoel.

Verwysing: Haarhoff, S. & Swanepoel, P.A. (2021). Current and future agronomic perspectives on rainfed soybean production systems in South Africa, Agronomy Journal 113 (6), 4527-4540.