
Toelaag help werf toekomstige breinnavorsers
"Voortdurende navorsing dui daarop dat geestesiektes met die struktuur, chemiese samestelling en funksie van die brein verband hou en inderdaad 'n biologiese oorsprong het," sê Janine Roos.
Roos is die direkteur van die Geestesgesondheidsinligtingsentrum van Suid-Afrika (GGIS). Die GGIS is 'n belangrike komponent van die Eenheid vir Angs- en Stressteurings van die universiteite van Stellenbosch en Kaapstad, wat aan die Mediese Navorsingsraad verbonde is.
Sy het onlangs 'n toelaag van die Internasionale Breinnavorsingsorganisasie (IBRO) ontvang om gedurende Breinbewusmakingsweek in Maart volgende jaar werksessies op hoërskool-, voorgraadse en nagraadse vlak aan te bied.
"Daar is 'n behoefte aan bewusmaking van psigiatriese navorsing, sowel as die werwing van wetenskaplikes om op hierdie snelgroeiende en interessante vakgebied te werk," verduidelik sy.
Roos sê moderne breinbeeldingsnavorsing het die afgelope paar jaar tot ontsaglike vooruitgang gelei in ons begrip van die menslike brein en hoe dit deur siekteprosesse geraak word. "Studies wat tans deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Psigiatrie onderneem word, ondersoek geestesiektes wat algemeen in ons eie en ander lae- tot middelinkomsteomgewings voorkom. Dít sluit in navorsing oor die invloed van MIV op breinfunksie, die gebruik van metamfetamien ('tik') en die gepaardgaande verandering in breinvolume by skisofrenie, sowel as die funksionele neuro-korrelate van post-traumatiese stressteuring," sê Roos.
"Dit beklemtoon die belang van voorspraak vir én verdere opleiding in breinbeeldingsnavorsing in Suid-Afrikaanse verband om ons kennis op hierdie gebied uit te brei."
Die GGIS werk saam met dr Stefan du Plessis, 'n navorser/klinikus van die US se Departement Psigiatrie, om die tekort aan vaardighede op breinbeeldingsgebied te hanteer.
"Eerstens beplan ons om aanbiedings te doen by hoërskole om die basiese begrippe van geestesiektes bekend te stel, sowel as die vooruitgang in breinbeeldingsnavorsing wat ons hierdie siektes help verstaan."
"Tweedens sal ons in samewerking met Du Plessis en sy kollegas van die Universiteit van Utrecht die basiese begrippe van breinbeelding en die verwerking daarvan deur middel van 'n reeks werksessies oor onder meer neurosielkunde, neuropsigiatrie en breinbeelding op voorgraadse vlak bekend stel.
"Laastens sal werksessies oor die fyner besonderhede van die voorverwerking en ontleding van breinbeelding op nagraadse vlak aangebied word," verduidelik Roos.
Sy sê die GGIS sal uiteindelik graag makliker toegang tot die behandeling van geestesiektes vir alle Suid-Afrikaners wil sien, sowel as die bekendstelling van opvoedings- en siftingsprogramme in skole en by tersiêre instellings om leerders en studente beheer te gee oor hulle eie geestesgesondheid.