
Tien nuwe Agri-doktore kry graad
Van kleine blaaspootjies in pruimboorde tot indringerperdebye, van siektes wat in wingerde en onder appels, leeus en luiperds gevind word tot studies oor die genetika van Nguni-beeste, woudekosisteme, swart renosterbewaring en die hantering van vloede – dit is die onderwerpe wat bestudeer is deur die tien nuwe doktore van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit AgriWetenskappe. Hulle sal op 8 Desember 2016 hul PhD-grade ontvang.
Altesaam 32 AgriWetenskappe-meestersgraadstudente, en 15 honneursstudente gradueer ook hierdie week, tesame met 230 voorgraadse studente (insluitend 57 Elsenburg-studente).
Elleunorah Allsopp ontvang haar PhD in Entomologie vir navorsing oor meer natuurlike maniere hoe die blaaspootjie-pes, Frankliniella occidentalis (Pergande), beheer kan word. Sy is besig om 'n sogenaamde "afweer-aanlok" strategie te ontwikkel om die voorkoms van dié insek in pruimboorde te beheer. Blaaspootjies klim in pruimbloeisels in nog voor die blommetjies volledig oopmaak, en lê hulle eiers dan daarbinne. Allsopp het gewys dat sekere essensiële plantolies die blaaspootjies ontmoedig om eiers te lê wanneer dit op die bloeisels aangewend word (die "afweer"-gedeelte van die strategie). Sy het ook gewys dat wit klawer baie aantreklik is vir die blaaspootjies en dat dit dus langs die boorde geplant kan word om die insekte van die bloeisels weg te lok (die sogenaamde "aanlok"-strategie).
Plantpatoloog Mahlatse Annabella Baloyi het aspekte rondom die voorkoms van Petri-siekte in plaaslike wingerdstokke ondersoek. Die toestand het 'n invloed op die produktiewe lewensduur van wingerde wêreldwyd. Haar navorsing het uitgewys hoe belangrik snoeiwondbeskerming is. Die fungi wat Petri-siekte in Suid-Afrika veroorsaak stel spore vry net mooi in dieselfde tyd wanneer snoeiwerk gewoonlik in die winter en lente gedoen word.
Vir haar PhD in hortologie het Irene Idun meer uitgevind oor die kwaliteite wat Suid-Afrikaanse verbruikers verkies in die appels wat hulle koop. Oorwegend verkies Suid-Afrikaners soeter appels. Sy het wel gevind dat jonger verbruikers tussen die ouderdomme van 18 en 25 jaar oud ook geneë is om fermer, suurder appels te geniet. In vergelyking met ouer verbruikers hou hulle ook meer van groen appels. Die bevindinge wys dat daar bemarkingsgeleenthede is vir soet kultivars soos 'Fuji" wat nog nie so bekend is onder Suid-Afrikaanse verbruikers nie, maar dat ander verbruikersgroepe nie afgeskeep moet word nie.
Vir haar PhD in bewaringsekologie het Tanya Kerr die verspreiding en evolusie van sogenaamde "kat-IV" (kat immunogebreksvirus, maar beter bekend as "Feline Immunodeficiency Virus" of FIV) ondersoek. Sy het die voorkoms van die virus gebruik om te wys hoe verskillende groepe leeus en luiperds rondbeweeg, en moontlik ook interaksie het met ander groepe.
Wil jy meer weet oor die verskillende rasse van fungus Venturia inaequalis wat appelskurf in Suid-Afrika veroorsaak? Dan is plantpatoloog Trevor Koopman die man om te vra. Hy het voorbeelde daarvan in appelboorde regoor Suid-Afrika versamel, en sodoende vasgestel dat daar nogal 'n wye verskeidenheid is. Party soorte kan ook meer skade aanrig as ander. Koopman het onder meer gevind dat soorte in die Elgin-omgewing geneties heel uniek is. Hy het 'n laboratoriumtegniek gebruik om te toets of die fungi in plantweefsel teenwoordig is, en om vas te stel watter vrugtekultivars daarteen weerstandig is of nie.
Bewaringsekoloog Ilse Kotzee het ondersoek ingestel na nuwe en verbeterde maniere waarop die voorkoms van vloede bestuur kan word. Haar bevindinge sal van waarde wees vir diegene wat planne rondom vloedbestuur moet maak, maar in gebiede werk waar genoegsame data ontbreek en kapasiteit 'n probleem is.
Sylvanus Mensah het sy PhD-navorsing in Boskunde gedoen oor die miswoude van Limpopo. Hy het inligting ingesamel oor hoe plaaslike gemeenskappe 'n bestaan maak danksy aspekte van die woudekosisteme. Hy het ook die kwessie van koolstofsekwestrasie en die potensiaal van heuningproduksie ondersoek. Onder meer het hy 'n belangrike korrellasie getrek tussen biodiversiteit en 'n gebied se vermoë om koolstof te berg. Dit is die eerste keer dat hierdie aspek rondom 'n Suid-Afrikaanse woud ondersoek word.
Jeff Muntifering se PhD in Bewaringsekologie bied heelwat stof tot nadenke oor hoe toerisme kan help met swartrenosterbewaring in Namibië. In sy tesis sit hy van sy navorsing en ervaring uiteen wat hy in die afgelope 15 jaar as renosterkenner en gemeenskapsbewaringskundige in Namibië opgedoen het. Hy reken gemeenskapsgerigte bewarings- en toerismestrategieë verskaf 'n stewige fundament om renosterstropery te help teenstaan. Dit is omdat sulke inisiatiewe help dat plaaslike mense 'n groter waarde koppel aan renosterbewaring as bloot net korttermyn finansiële gewin. In sy studie het hy baie spesifieke riglyne uiteengesit wat kan bydra tot die volhoubaarheid van toerismegeleenthede in Namibië wat fokus op renosterbewaring.
Vir haar PhD in entomologie het Carolien van Zyl maniere bestudeer waarop twee indringerperdebye beheer kan word wat moontlik 'n invloed kan hê op die biodiversiteit en landbousektor van die Kaapse Blommeryk. Sy het vasgestel hoe die Duitse perderby (Vespula germanica) en die Europese perdeby (Polistes dominula) na Suid-Afrika gebring is. Sy het ook verskillende lokmiddels ondersoek wat gebruik kan word om populasies daarvan in die Wes-Kaap te monitor en te beheer.
Margretha Wang het die genetiese diversiteit van Suid-Afrikaanse Ngunibeeste van nader bekyk. Sy het onder meer die rol en verspreiding van sogenaamde kopiegetalvariasies bekyk. Dis 'n tipe genetiese mutasie wat betaan uit weglatings of herhalings in die genoom wat groter as 1kb is. Danksy haar navorsing in veekundige wetenskappe het Wang 'n protokol ontwikkel om hierdie mutasies te identifiseer.