Skip to main content
Tegnologiese vooruitgang help in die stryd teen ontluikende infeksies

Tegnologiese vooruitgang help in die stryd teen ontluikende infeksies

Gert Uves van Zyl
02 November 2021

Die onlangse vooruitgang in diagnostika en die ontwikkeling van entstowwe sal noodsaaklik bly in die stryd teen huidige en toekomstige ontluikende aansteeklike siektes. Só meen prof Gert Uves van Zyl (Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens in die Tygerberg-sake-eenheid / Afdeling vir Mediese Virologie) in ʼn onlangse meningsartikel vir Health24.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Gert Uves van Zyl*

Binne 'n paar weke ná SARS Koronavirus 2 (SARS-Cov-2), die virus wat COVID-19 veroorsaak, ontdek is, het wetenskaplikes sy volle genoom beskryf, betekende dat hulle al die genetiese inligting daarvan bekom het. Hulle kon dit in so 'n kort tydjie regkry danksy snel ontwikkelinge die afgelope paar jaar op die gebied van volgordebepaling in nukleïensuur (molekules in selle wat inligting dra). Kennis oor die genetiese volgorde van hierdie nuwe virus het wetenskaplikes in staat gestel om diagnostiese metodes te ontwikkel wat gebruik is om die epidemie na te spoor, en het hulle ook toegelaat om met die proses van entstofontwikkeling te begin.

Dit is belangrik om in gedagte te hou dat elke siekteveroorsakende agent of patogeen 'n unieke genetiese kode het. Die ontsyfering van hierdie kode is baie belangrik in die stryd teen nuwe aansteeklike agente. Net soos 'n string krale wat uit vier kleure klare bestaan, is genetiese kodes 'n volgorde van vier verskillende boustene wat saamgebind is. Genetiese kodes het twee hoofvorme: die permanente genetiese kode van lewende organismes is deoksiribonukleïensuur of DNS, terwyl ribonukleïensuur (RNS), spesifiek boodskapper-RNS of bRNS, 'n kode met 'n kort leeftyd is wat deur die proteïenvervaardigers in selle benodig word om die volgorde van aminosure te bepaal wat, wanneer dit saamgebind is, peptiede of proteïene opmaak.

Die eerste patogene wat ontdek en beskryf is, was bakterieë wat met behulp van vloeibare groeimedia of kultuurplaatjies in laboratoriums gekweek kon word. Net so kon giste in geskikte laboratoriumkultuurmedia gekweek word. Die alle infeksies kan egter op dié manier gediagnoseer word nie, aangesien nie alle aansteeklike agente in hierdie media groei nie. Daarom maak moderne diagnostiese toetse baie op die opsporing van genetiese kodes staat.  

Virusse bestaan uit 'n genetiese kode, wat vir verskillende soorte virusse óf DNS óf RNS is. Hierdie DNS of RNS is in 'n proteïendop verpak en sommige virusse het ook 'n membraan. Aangesien virusse nie hul eie proteïene vervaardig nie, is hulle heeltemal afhanklik van lewende gasheerselle om aanteel te produseer.

Die onlangse vooruitgang in diagnostika en die ontwikkeling van entstowwe sal noodsaaklik bly in die stryd teen huidige en toekomstige ontluikende aansteeklike siektes. Die nuwe tegnologieë wat in die beskrywing van SARS-CoV-2 gebruik is, sal belangrik bly om nuwe patogene op te spoor. bRNA- en vektorentstoftegnologie wat in die vinnige ontwikkeling van entstowwe teen COVID-19 gebruik is, sal belangrik bly in die reaksie op huidige belangrike infeksies waarvoor daar nog geen doeltreffende entstof beskikbaar is nie, en om vinnig op toekomstige pandemiebedreigings te reageer.

  • Klik hier om die res van die geplaasde artikel te lees.

*Prof Gert Uves van Zyl is 'n patoloog by die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens in die Tygerberg-sake-eenheid en 'n professor in die afdeling vir Mediese Virologie aan die Universiteit Stellenbosch. Hierdie artikel is gegrond op sy onlangse artikel, “New Technological Developments in Identification and Monitoring of New and Emerging Infections" wat in Reference Module in Biomedical Sciences (2021) verskyn het.