Switserse simposium oor generasiegaping lei tot stimulerende insigte
Die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs vir die eerste keer as gasheer vir die St Gallen-simposium opgetree. Dit is ’n prestigeryke jaarlikse geleentheid wat deur die Universiteit van St Gallen in Switserland met die ondersteuning van die Switserse ambassade in Suid-Afrika gehou word. Dit was ook die eerste keer dat die geleentheid deur ’n Wes-Kaapse universiteit aangebied is.
Die rondetafelgesprek is op 4 Mei oor middagete by die Adam Small-teaterkompleks op die Stellenbosch-kampus gehou en ’n uiteenlopende groep gaste is uitgenooi om te besin oor maniere waarop die gaping tussen generasies oorbrug kan word. Vooraanstaande sprekers het prof Jonathan Jansen, uitgelewe professor in die Opvoedkunde, en die Switserse Konsulgeneraal, Markus Thür, ingesluit.
Die St Gallen-simposium, wat in 1969 tot stand gekom het, is een van die oudste platforms in die wêreld vir gesprekke tussen verskillende generasies. Die simposium word deur ’n span studente van die Universiteit van St Gallen bestuur, waarvan sommige die geleentheid op Stellenbosch bygewoon het. ’n Groep van 20 studente van St Gallen het in April die US se kampus besoek en in Julie vanjaar sal ’n afvaardiging van US-studente die gaste van die Switserse universiteit wees. Die Universiteit van St Gallen het agt institusionele navorsingsooreenkomste en verskeie akademiese medewerkings met die US in plek.
Die onderwerp van ’n generasiegaping het tot ’n lewendige bespreking gelei, waarvan Jansen se kaalvuis siening van die kwessie die hoogtepunt was. Hy het afgeskop deur die idee van ’n generasiegaping te verwerp. Jansen het aan die hand van ondervindings uit sy kinderdae getoon hoe hy reeds as ’n jong kind met ouer mense omgegaan het. “Ek het nooit ’n sogenaamde generasiegaping in my kinderdae ervaar nie. Dit was altyd vir my lekker om mense – alle soorte mense – te gesels. Ek probeer om in hulle koppe in te klim om hulle beter te verstaan. Ek en my vroue het ook ons twee kinders geleer om vreesloos te wees. Hulle respekteer mense, ongeag wie hulle is en waar hulle vandaan kom. Toe ek ’n professor geword het, was my studente my vriende. Ek sou twee keer per dag oor die kampus stap net om met jongmense te gesels.”
Jansen het ook daarop gewys dat die generasiegaping dikwels as ’n regverdiging gebruik word wanneer verskille tot konfrontasie lei. Volgens hom is dit gevaarlik en oneerlik om op essensiële identiteite soos ouderdom, ras en geslag terug te val om verskille te verduidelik. Dit is ook problematies om aan te neem dat daar konsensus tussen verskillende generasies is. “Jy kan 100 studente op enige plek op die kampus bymekaar maak om te sien of daar konsensus is. Hulle dink nie almal dieselfde nie. Sommige is baie konserwatief, ander is radikaal en dan is daar altyd diegene wat nie in die minste omgee nie. Om aan te neem dat daar konsensus onder die jonger generasie is, is dieselfde as om te aanvaar daar is konsensus onder die ouer garde. Dit is eenvoudig net nie waar nie.”
Die aanname dat jonger mense meer bedrewe is met nuwe tegnologie as ouer mense, is volgens Jansen ook nie geldig nie. Om sy punt te bewys, het hy na die twee plaaslike akademici verwys wat gedurende die Covid-19-grendeltyd die leiding geneem het om digitale instrumente in onderrig in te span. “Jonger mense het by kundiges op die gebied van tegnologie wat in hulle sestigs is, geleer hoe om hulle pad deur die nuwe aanlyn instrumente vir afstandsleer en -onderrig te vind. So ek glo nie die onsin dat daar ’n skeidsmuur tussen geslagte is ten opsigte van tegnologie nie.”
Jansen het die gehoor aangemoedig om verder as onbenullige verskille te kyk en om eerder op gedeelde waardes te fokus. “Kwessies soos klimaatsverandering en kunsmatige intelligensie wat ons wêreld fundamenteel gaan verander, is verskille wat regoor generasies strek. Ons gaan almal op die een of ander manier geraak word. Eerder as om op generasieverskille te fokus, moet ons ons afvra hoe eensgesindheid lyk, veral in ’n land wat nog nie vrede met sy verlede gemaak het nie. Die feit bly staan, ons het saam in hierdie gemors beland en die enigste manier om uit dit te kom, is saam. Maar ons eensgesindheid moet ook verder gaan as woorde. Ons moet die gedeelde waardes vind wat ons verbind ten einde die probleme aan te pak wat ons einste bestaan kan vernietig.”
Jansen het ter afsluiting gesê verskille tussen generasies spruit dikwels uit ’n gebrek aan respek en die kapasiteit om te luister. “Ek dink een van die vernaamste redes waarom ons in hierdie probleem beland het, is omdat ons nie geleer het hoe om op ’n beleefde en eerbiedige manier met mekaar te praat en na mekaar te luister nie.”
Die Switserse kundige oor digitalisering, Marc Degen, het idees oor ’n nuwe generasie-kontrak wat op innovasie en tegnologie fokus, met die gehoor gedeel. Degen het aangetoon hoe tegnologiese innovasie die afgelope eeu dikwels tot oproerigheid en konflik gelei het tussen ‘n ouer generasie wat die status quo verkies het, en ’n nuwe generasie wat nuwe tegnologie omarm het. “Tegnologiese vooruitgang het die afgelope paar jaar teen ’n ongelooflike spoed plaasgevind. Tegnologiese innovasie versnel die manier hoe ons reis, werk en kommunikeer. Dit het ’n dramatiese uitwerking op elkeen se alledaagse lewe,” het Degen gesê. Hy het voorgestel dat tegnologie gebruik kan word om brûe tussen generasies te bou, maar het die gehoor daaraan herinner dat kommunikasie en begrip nie geforseer kan word nie. “Die meeste prestasies het uit klein toevallighede ontstaan – ek noem dit die skoenlapper-verskynsel. Dit gaan oor vertroue en ons vermoë om onsself oop te stel vir die verrassings van die lewe. As jy die aantal toevallighede in jou lewe kan verhoog, sal dit tot florerende innovasie en beter kommunikasie lei.”