
Studente van regoor die wêreld by US verwelkom
Hulle kom van heinde en verre – vanaf lande soos die Tsjeggiese Republiek, Duitsland, Finland, Nigerië, Kanada en Mexiko en vir die volgende paar maande is die Universiteit Stellenbosch (US) hul nuwe tuiste in Suid-Afrika. Vir sowat 350 internasionale studente wat hierdie semester by die US begin studeer is daar baie om na uit te sien as Matie studente.
Prof Hester Klopper, Adjunk-Visekanselier: Strategie en Internasionalisasie het die groep internasionale studente verwelkom by 'n oriënteringsessie wat deur Universiteit Stellenbosch Internasionaal (US Internasionaal) aangebied is. Sy het in haar toespraak die US se akademiese prestasies uitgelig en aan studente vertel hulle is by een van Afrika se top universiteite. Sy het verder vertel dat die US verbind is tot internasionalisasie en genoem dat die universiteit die oudste internasionale kantoor in Suid-Afrika het. Prof Klopper het ook planne bespreek om die getal internasionale studente op die kampus te verhoog en gesê die universiteit mik daarna om dit na 18% van die totale studentebevolking oor vyf jaar op te skuif.
Robert Kotzé, senior direkteur van US Internasionaal, het internasionale studente aangeraai om die meeste van hul tyd by die US te maak. "Raak deel van die mense rondom jou. Leef jou lewe hier en maak 'n verskil in die klaskamer en in die gemeenskap," het hy hulle aangemoedig.
Leah Bontreger en Gisela Mora was twee van die internasionale studente wat die oriënteringsessie bygewoon en het opgewonde vertel hul eerste week by die US het goed afgeloop. Gisela, 'n vierdejaar student aan die Universiteit van North-Carolina by Greensboro in die VSA, sê sy is in Stellenbosch om meer oor Suid-Afrikaanse kultuur en diversiteit leer. Gisela wat Internasionale Betrekkinge studeer sê vriende wat voorheen in Stellenbosch was het haar aangeraai om hier te studeer. Gisela en Lea, 'n mede Amerikaanse student van Hanover College Indiana, is albei op 'n ses maand lange uitruilprogram by die US. Lea, 'n derdejaarstudent in chemie, sê sy is opgewonde om klasse in polimeerwetenskap by te woon omdat die kursus nie by haar universiteit aangebied word nie.
Vir Abdulrahaman Lawal Suleiman van Nigerië is dit sy eerste keer in Stellenbosch. Die PhD-student sê hy is opgewonde om by 'n top-universiteit te wees. "Ek beskou dit as een van die beste universiteite in die wêreld."
• Internasionale studente woon 'n weeklange oriënteringsprogram vanaf 29 Januarie tot 4 Februarie by.