Skip to main content
Stellenbosch maak Erin Solomon se drome waar

Stellenbosch maak Erin Solomon se drome waar

Dr Peter Martens
14 Februarie 2023

​Ná 'n onderbreking van twee jaar as gevolg van die Covid-19-inperkings het die 17de Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees weer in Julie 2022 plaasgevind.  Een van die belangrikste trekpleisters vir gevorderde deelnemers is die geleentheid om 'n beurs te wen wat die deelnemer in staat stel om 'n personeellid in sy/haar land van herkoms vir 'n tydperk van tien dae te besoek en by sy/haar werk waar te neem.  By die tiende SIKMF in 2013 is tien sulke beurse uitgeloof en sedertdien is by elke Kamermusiekfees 'n verdere een toegeken.  ​

In 2022 het Erin Solomon hierdie beurs ontvang en pak hy tans sy tasse vir 'n besoek van tien dae aan Washington DC om Jauvon Gilliam se werkspraktyk te leer ken en verdere afrigting van hom te ontvang. Gilliam is die hoofpoukespeler van die National Symphony Orchestra van die VSA en hy het Suid-Afrika vir die eerste keer in 2022 besoek as een van die vermaarde personeellede van die SIKMF.  Dit is moeililk om die verrassing en vreugde op Erin se gesig te beskryf toe hy as die ontvanger van hierdie gesogte beurs aangekondig is.  

In sy jeugjare het Erin aan 'n wye verskeidenheid jazz en soul blootstelling gehad.  In sy skoolorkes het hy vir die eerste keer ook klassieke musiek leer ken.  Dit het uiteindelik gelei tot formele onderrig deur Frank Mallows (UCT) en 'n plek in die Kaapse Filharmoniese Orkes se jeugorkes.  In 2022 het Erin met universiteitsopleiding begin en die geleentheid aangegryp om verder onder Mallows se leiding te studeer.  Volgens Erin is Mallows “dieselfde ongelooflike leermeester onder wie ek my opleiding in perkussie begin het.  Die geleentheid om nou in 'n formele universiteitsomgewing van hom onderrig te ontvang bied aan my 'n buitengewone leergeleentheid en ek het sedertdien baie by hom geleer wat sowel solo- as orkesspel betref."

“Die 2022 SIKMF was vir my, sonder om te oordryf, 'n werklik lewensveranderende ondervinding.  2022 was nie bloot die eerste jaar van my graadstudie nie, maar ook die jaar waarin ek ná 'n onderbreking van vier jaar weer aktief begin het om musiek te beoefen met die oog om dit my loopbaan te maak.  Dus was die SIKMF in 2022 'n belangrike kristalliseringspunt op my persoonlike reis en my pad terug na die wêreld van musiek.  Byna elke aspek van die Kamermusiekfees was 'n nuwe en opwindende leerervaring waardeur ek my musikale horison kon verbreed. Die kamermusiek sowel as die afrigting in perkussie deur Jauvon Gilliam was vir my soos 'n wipwaentjie op 'n op-en-af-baan." 

“Gilliam was 'n onuitputlike bron van insig en inspirasie gedurende my tyd by die 2022 SIKMF.  Met pouke as my hoofinstrument was dit vir my 'n baie verrykende ondervinding om by Jauvon, self 'n spesialis op hierdie instrument, te leer."

Oor sy toekoms sê Erin dat hy van plan is om verder in die buiteland te studeer terwyl hy wil aanhou om solo- en kamermusiek te beoefen, maar dat sy uiteindelike doel is om in 'n professionele simfonieorkes te speel. “Die ryk orkesrepertoire is my groot inspirasie en voorliefde en ek vind die ervaring om in 'n orkes te speel – waar ek saam met 'n groot verskeidenheid ander instrumentaliste musiek kan maak – 'n fundamenteel vervullende en verrykende ervaring."  

Die bestuur van die SKMF wens Erin vir sy musiekreis na die VSA alle sukses toe.