
Steinhoff Maties te sien in Premierhokkieliga
Altesame 16 spelers van die Steinhoff Maties Hokkieklub speel in die splinternuwe Premierhokkieliga (PHL).
Die liga – wat op dieselfde konsep as die Indiese Premierliga vir krieket gegrond is – word oor die vier naweke van September in Johannesburg beslis.
Die Suid-Afrikaanse o.21-spanne sal ook in die PHL speel. Die manspan is die Golden Gate Gladiators en die vroue speel as die Namaqualand Daisies. Die Maties in die Golden Gate Gladiators-span is Alex Stewart, Rob McKinley, Charlie Bowren en Matt de Sousa, terwyl Tarryn Glasby, Christine Seggie, Dani Cairns en Alegra Dijkstra vir die Daisies speel.
Maties word ook in die ander spanne verteenwoordig.
Keenan Horne en Reece Arendse speel vir die Garden Route Gazelles. Mede-Matie Dylan Swanepoel is ook by hierdie span ingesluit, maar moes weens 'n besering onttrek. James Drummond en Jacques Bleeker verteenwoordig die Maropeng Cavemen, terwyl Luke Schooling in aksie sal wees vir die Drakensberg Dragons.
Drie Maties-vroue – Nicole la Fleur, Natasha Rootenberg en Heather McEwan – speel almal vir die Wineland Wings.
Die kompetisie het die afgelope naweek afgeskop en ná die eerste wedstryde is die Garden Route Gazelles eerste op die mans se punteleer en die Maropeng Cavemen tweede. Die Wineland Wings is tweede op die vroue se punteleer.
Vir meer inligting besoek www.premierhockeyleague.co.za