Skip to main content
Steinhoff Maties Hokkie se vrouespan vat voor in WP-liga

Steinhoff Maties Hokkie se vrouespan vat voor in WP-liga

Maties Hockey / Maties Hokkie
08 Junie 2016

Steinhoff Maties Hokkie se vrouespan is stewig in beheer van sake in die WP-liga.

Maties is bo-aan die punteleer ná Sondag se wedstryd teen Conberg. Die span het met 4-2 gewen danksy 'n driekuns deur Quanita Bobbs en een doel deur Heather McEwan. Ná 10 wedstryde staan Maties op 28 punte: hulle het nege wedstryde gewen en in een gelykop gespeel. Somerset-Wes is in die tweede plek met 20 punte.

Bobbs en McEwan is mede-kapteins van die span.

Volgens McEwan speel Maties nie net goed as 'n span nie, maar het elke speler ook as individu gegroei.

"Daar blyk ook iets ekstra aan die span te wees, maar ek kan nog nie my vinger daarop lê nie. Dit is egter baie lekker om deel van die span te wees."

McEwan het gesê dis moeilik om een hoogtepunt te kies. "As ek egter een wedstryd moet uitsonder, is dit die een teen Somerset-Wes, al het ons in die laaste paar minute van die wedstryd ons voorsprong verloor (die uitslag was 3-3). Die manier waarop die span gespeel het, was absoluut uitsonderlik. Ek is baie opgewonde om te sien hoe die span in die USSA-toernooi gaan vaar."

Die USSA-toernooi vind van 4-8 Julie in Johannesburg plaas.

"Ofskoon die span goed speel, sal ek graag wil sien dat die spelers hul intensiteit verhoog. Daar is nog baie potensiaal wat nie ten volle bereik word nie."

McEwan geniet dit om saam met Bobbs kaptein te wees:

"Ek is baie dankbaar vir Bobbs se ervaring, veral tegnies en takties. Dit is ook lekker om saam met haar te speel. Dit is maklik om 'n kaptein vir die span te wees en dis wonderlik om die hele span se ondersteuning te hê."

Maties is die verdedigende kampioene in die WP-liga.

"Ek speel nou al vier jaar vir Maties en ander spanne kom altyd met alles om ons te klop. Die juniors in ons span het dit nog nie voorheen ervaar nie, maar gelukkig is daar verskeie senior spelers wat presies weet wat om in sulke situasies te doen. Ek sien dit ook nie as druk om die verdedigende kampioen te wees nie, maar eerder as ekstra motivering om die kampioen te bly."

Maties se volgende WP-ligawedstryd is op 20 Julie teen Vics (tans sewende op die punteleer).