
Steinhoff Maties gereed vir groot hokkie-naweek by Coetzenburg
Met drie oorwinnings en 24 doele in hul guns, lê die Steinhoff Maties-hokkiemans derde op die Varsity Hokkie-toernooi se punteleer.
Die toernooi het verlede Vrydag begin met die eerste ronde van wedstryde wat by die Universiteit van Johannesburg gespeel is. Maties het nie goed begin nie en het die eerste wedstryd 3-5 teen die verdedigende kampioene, UJ, verloor.
Op die Saterdag het hulle begin speel soos 'n span wat graag die titel wil wen met 'n oorwinning van 4-0 teen Kovsies. Op die Sondag en Maandag het hulle hul opponente behoorlik pak gegee deur 17 doele aan te teken en net een af te staan. Hulle het oorwinnings oor die Madibaz (8-0) en Pukke (9-1) behaal. Hierdie uitslae stuur 'n duidelike boodskap dat Maties graag beter wil vaar as in 2014 toe hulle in die finaal verloor het.
Die toppuntemakers vir Maties is Shannon Boucher (4), Keenan Horne (4), James Drummond (3), Charlie Bowren (3) en Dylan Swanepoel (3).
Maties is derde op die punteleer met 9 punte. Wits se span is vierde, ook op 9 punte, maar Maties het 'n gesonde doelverskil wat in hul guns tel. UJ en Tuks is albei steeds onoorwonne en lê eerste en tweede op die punteleer.
Die komende naweek vind al die aksie op Stellenbosch by die Coetzenburg-astro plaas. Maties sal teen Tukkies, Ikeys en Wits speel. Die semifinale vind Maandag plaas en die finaal op 23 Mei. Die wedstryd teen Ikeys is ook 'n Intervarsity-stryd.
Al Maties se wedstryde begin 18:45 en die aksie begin daagliks om 13:30. Toegang is gratis.
Fotokrediet: Varsity Sports SA