
SR voorsitter gee oorsig oor die afgelope termyn
Beste student
Dis ongelooflik om te dink dat ons reeds halfpad deur ons akademiese jaar is en driekwart deur die termyn van die Studenteraad (SR) vir 2015/16. In my vorige brief aan die kampus het ek aangedui dat Suid-Afrika, en inderdaad ook hierdie kampus, 'n besonder betekenisvolle tyd beleef in die oorgang na 'n toekoms wat alle Suid-Afrikaners insluit. In die soeke na oplossings het ons kampus oor die afgelope paar maande met verskeie kwessies geworstel, maar vir my, wat reeds langer as vyf jaar aan die Universiteit Stellenbosch studeer, is dit verfrissend om te sien dat ons personeellede en studente se voortgesette harde werk op hierdie kampus begin vrugte afwerp.
Studentedekaan
Ek is besonder dankbaar dat die pos van Studentedekaan weer ingestel is nadat die SR langer as drie jaar daarvoor gevra het. As SR sien ons daarna uit dat die Studentedekaan aan die hoof sal staan van die afdelings studentebestuur en studenteleierskap van die Universiteit, wat ná 'n lang afwesigheid weer broodnodige steun sal bied, nie net aan die studenteleiers in die SR nie, maar ook aan MAD2, die kuns- en kultuurkomitee, die Studenteparlement en alle ander studenteleiers deur die FVZS Instituut.
Studenteparlement
Wat die Studenteparlement betref, het die SR hom daartoe verbind om ondersoek in te stel na die skielike verdwyning van dié struktuur. Die Studenteparlement speel 'n uiters belangrike rol, nie net om die SR verantwoordbaar te hou nie, maar ook om 'n platform te skep waar studente kwessies van belang kan opper. Die Universiteit se studentebestuurafdeling het ons belowe dat 'n taakgroep tans beraadslaag om die pad vorentoe uit te lê en 'n herhaling van die voorval vroeër vanjaar te voorkom. Ons sal aanhou druk uitoefen op die studentebestuurafdeling om te sorg dat hierdie struktuur so gou moontlik weer in werking tree.
Pendeldiens
Die SR vind dit kommerwekkend dat die pendeldiens, na vele samesprekings met die Universiteit, steeds ver te kort skiet. Ons skakel tans met verskeie belanghebbendes by die Universiteit om te bepaal hoe hierdie probleem opgelos kan word, veral noudat dit vroeër donker word en die koue winterweer aan die kom is.
Vir meer inligting oor die huidige pendelstelsel, gaan na: http://www0.sun.ac.za/sustainability/pages/english/transport-mobility/campus-shuttle-service.php#Stellenbosch.
Stuur gerus enige voorstelle oor die vervoerdiens, en oor hoe dit meer doeltreffend gemaak kan word, na [email protected]. Sodoende kan ons 'n meer omvattende studenteperspektief in ons toekomstige onderhandelinge met belanghebbendes voorlê.
Veiligheid
Die veiligheid van ons studente bly een van ons hoofprioriteite. Geluk aan Romek Sadowski met sy aanstelling as SR-lid vir veiligheid. As 'n teken van ware vooruitgang is die veiligheidskomitee nou 'n funksionele liggaam wat uit al die onderprims van alle koshuise en PSO's bestaan om te verseker dat die veiligheidsportefeulje in voeling bly met wat op voetsoolvlak gebeur.
Slegs 'n week gelede het die portefeulje en die bestuur van die Universiteit 'n aandtoer oor die hele kampus onderneem om die verskeie stukkende ligte en gevaarsones uit te wys. Die veiligheidsportefeulje is ook tans besig met onderhandelinge oor die moontlike verbetering van samewerking met die Universiteit om te verseker dat studenteverteenwoordigers altyd betrokke is by sekuriteit- en noodverwante besluitneming.
'n Verdere voorrangsaak is die ontplooiing van ekstra sekuriteit in die omgewing van studielokale vir die komende eksamen, waartoe die bestuur hulle verbind het.
Die veiligheidskomitee is verbind tot die versekering van 'n veilige omgewing vir alle studente, en ons moedig studente dus aan om enige kwessies in hierdie verband onder ons aandag te bring by [email protected] of die Twitter-adres @studentsafetySU.
#EndRapeCulture
Die SR is ook ten nouste betrokke by die oproep om die beëindiging van die verkragtingskultuur op kampus. Deur die werk van ons portefeuljes vir vrouebemagtiging, genderidentiteit en bewusmaking is duisende studente bereik. Dit sluit in verskeie werksessies by koshuise en PSO's sowel as massa-aksie op die Rooiplein. Die veldtog "Shaken Silence" het ook die afgelope kwartaal kritiese besprekings op die Rooiplein gehou, wat direk op MFM uitgesaai is om 'n groter gehoor te bereik.
Saam met die Universiteit's bestuur werk die SR ook saam met die taakgroep oor verkragtingskultuur. Die taakgroep ondersoek aspekte van klimaat en kultuur en sal aanbevelings by die US doen oor hoe sommige van hierdie diepgewortelde houdings en praktyke hanteer kan word.
Ons moedig studente aan om kommentaar en persoonlike ervarings van die verkragtingskultuur aan die taakgroep te stuur. Stuur asseblief die kommentaar elektronies aan [email protected] te stuur.
Bewusmaking is van die allergrootste belang om die verkragtingskultuur op kampus te bestry, en ons bedank graag al die organisasies wat ons die boodskap help versprei het.
Vir meer oor wat die verkragtingskultuur behels, gaan na:http://www.sun.ac.za/english/Lists/news/DispForm.aspx?ID=3806.
Vrouebemagtiging As een van die hoofvennote in die #EndRapeCulture-veldtog, het die portefeulje vir vrouebemagtiging ook die eerste insameling van sanitêre doekies op kampus gehou, waardeur honderde doekies aan behoeftige leerders van Hoërskool Kayamandi geskenk is. By die oorhandiging het die portefeulje boonop 'n sessie oor instemming vir die vroulike leerders van die skool aangebied.
Verskeie sanitêre doekies sal ook teen die einde van die maand aan kontrakwerkers geskenk word. Studente wat sanitêre doekies nodig het, kan gerus 'n draai maak by die SR-kantoor op die derde verdieping van die Neelsie, waar ons hulle sal bystaan.
Daarbenewens handel die portefeulje tans 'n beleid oor gratis sanitêre ware by die Universiteit Stellenbosch af en hersien ook koshuisbesoektyd.
Die vroueportefeulje het boonop nóg 'n "vaginamonoloog" aangebied, wat 'n veilige ruimte bied vir vroue om oor hulle ervarings en emosies te praat. Ons is dankbaar vir die groot opkoms by die geleentheid, wat bewys dat daar 'n behoefte is aan nóg sulke veilige ruimtes.
Genderidentiteit en seksualiteit
Hierdie portefeulje was eweneens baie besig en het verskeie gesprekke oor LGBTI+ op kampus gehou. Die portefeulje lewer belangrike bydraes tot die vestiging van veilige ruimtes vir gay en ander seksualiteite en het op 31 Maart Internasionale Transgenderdag op die Rooiplein gevier om mense van hierdie dringende saak bewus te maak.
Vir foto's van die bewusmakingsveldtog oor transgender, gaan na: https://www.facebook.com/media/set/?set=a.226556704370876.1073741830.187794414913772&type=1&l=cab6380b9c.
Die SR stel volgende maand 'n skryfwedstryd in vennootskap met die departemente Engels en Afrikaans Nederlands bekend om verhale oor geslag, gender en seksualiteit te probeer deel.
Matie-identiteit
Die SR het "Matielewe" verlede jaar tot "Matie-identiteit" herdoop om dié portefeulje aan te moedig om ook verder as die grense van 'n tipiese Stellenbosch-student te dink. Die portefeulje doen goeie werk met betrekking tot die kwessie van diskriminasie teen persone met gestremdhede en begunstiging van persone sonder gestremdhede, en het verskeie werksessies daaroor aangebied. Ons voer boonop samesprekings met die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling om kwessies met betrekking tot studente met gestremdhede uit te stryk.
Die paneelonderhoude vir Mnr Matie, Mej Matie en Mx Matie is tans aan die gang, en ons sien uit na 'n skouspelagtige geleentheid volgende kwartaal. Kort daarna volg Matie-identiteitsweek (15-20 Augustus 2016), wat 'n hele paar geleenthede sal insluit, onder meer geleenthede in vennootskap met die portefeulje vir genderidentiteit oor Afrikafeminisme en -seksualiteit.
Kuns en kultuur
Die portefeulje vir kuns en kultuur was besonder besig met die uiters suksesvolle Toneelfees, wat maar twee weke gelede ten einde geloop het. Die portefeulje bied ook 'n fotografie- en skryfwedstryd aan. Inskrywingsvorms is beskikbaar by die SR-kantoor op die derde verdieping van die Neelsie.
Vir die wenners van die Toneelfees, gaan na: https://www.facebook.com/kukosr/posts/864765223634542.
Die portefeulje sien ook uit na die aanvang van die sêrseisoen volgende kwartaal, en klustersêr begin reeds 20 Julie.
Volhoubaarheid, innovasie en tegnologie
Die Volhoubaarheidsweek verlede week het onder meer die herinstelling van die herwinningsprogram op kampus en 'n uiters innoverende sonkragkookprogram ingesluit.
Die driedromstelsel sal voortaan weer in werking wees en ons moedig studente aan om die dromme te gebruik om te verseker dat ons ons herwinningspogings op kampus versterk. Die portefeulje sit ook sy program vir die herwinning van plastiekbotteldoppies voort.
Daarbenewens is die volhoubaarheidsportefeulje betrokke by die projek "Clothes for Life", waar studente klere op kampus kan aflaai, wat dan ingeruil word vir bome om in Kayamandi en ander gemeenskappe te plant.
Wat tegnologie betref, skakel die portefeulje met Informasietegnologie om die internetkwessie uit te stryk, en is ook ten nouste betrokke by die voortgesette verbetering van koordlose internettoegang (Wi-Fi) op kampus. Een van die inisiatiewe is die konstruksiewerk vir beter internettoegang, waardeur kabels van optiese vesel gelê word om klaskamers met Wi-Fi toe te rus. Dit spruit uit 'n Raadsbesluit vyf jaar gelede wat nou eers uitgevoer word.
Sosiale impak
Die MADsquare-portefeulje het in April met 'n opwindende inisiatief begin deur 'n straatwinkel te open waar haweloses vir hulle klere kan kies.
Vir meer inligting oor die straatwinkel, gaan na: https://www.youtube.com/watch?v=I9Y1SeQFhfM.
Hierdie portefeulje sien ook uit na die uitbreiding van die huidige tutorprogram volgende semester. As jy graag wil aansluit, stuur 'n e-pos na [email protected] of [email protected].
Sport en ontspanning Op die gebied van sport en ontspanning wens ons graag me Joy Mashego geluk met die titel van Mej Varsitybeker. Dit was werklik 'n hoogtepunt van die Varsitybekerreeks, waarmee die Universiteit Stellenbosch hom as gasheer uitstekend van sy taak gekwyt het. Ongelukkig kon ons nie die beker wen nie, maar kom ons hoop ons bring dit volgende jaar huis toe.
Ook geluk aan ons Maties Sewesrugbyspan wat die langnaweek die Varsity Sewesbeker verower het.
Ons moedig ook personeellede sowel as studente aan om ons hokkiespanne in die Varsity Hokkietoernooi vanaf 13 Mei te ondersteun, sowel as ons ontspanningsaktiwiteite as deel van Maties Maandagmalligheid elke Maandag by Coetzenburg.
Verenigingsraad
Die Verenigingsraad het nie net aangesluit by die kampuswye Maties-toepassing waarop studente kan inteken om meer uit te vind oor verenigings nie, maar hersien ook tans sy grondwet en nooi studente om kommentaar te lewer.
Vir meer inligting oor die Matieville-toepassing, gaan na: http://app.matieville.co.za/landing/Desktop#.VzMVd4R96Uk.
Om die grondwet van die Verenigingsraad te lees, gaan na: http://blogs.sun.ac.za/sug/files/2010/09/Constitution-of-the-Societies-Council.pdf.
Leierskapsontwikkeling
Die portefeulje vir leierskapsontwikkeling is ook baie bedrywig en hou nou gereelde vergaderings met alle HK-lede op kampus.
Ons werk hard om toe te sien dat die HK-verkiesings wat voorlê nie gewildheidskompetisies sal wees nie, maar eerder 'n proses om daardie studente te kies wat 'n blywende impak sal hê. Die PK het ons riglyndokument eenparig aanvaar, en ons vertrou dat die beginsels wat daarin vervat is in die studentegemeenskappe toegepas sal word.
'n Kursus vir nie-amptelike leiers (d.w.s. leiers wat nie leiersposte beklee nie) word tans ontwikkel, terwyl die leierskapsontwikkelingskomitee ook steun bied om leiers gemotiveer en toegewyd te hou. Daarbenewens word 'n Tweedejaarsforum vir tweedejaarskomitees vir volgende kwartaal beplan, so woon dit gerus by. Die datum sal binnekort bekend gemaak word.
Die SR is ook ten nouste betrokke by die beplanning van SULeads, omdat ons glo dat hierdie konferensie versterk moet word om ons studenteleiers waarlik toe te rus. Ons is oortuig daarvan dat kwessies van vrouebemagtiging, genderidentiteit en bewusmaking hoekstene van hierdie konferensie behoort te word, en sal dus aanhou vra dat dit ingesluit word. Ons het ook die studenteleierskapstruktuur gevra om verdere voorstelle ter versterking van die konferensie te maak.
Akademiese Belangeraad (ABR)
Die Akademiese Belangeraad verteenwoordig alle fakulteite en studente op akademiese gebied en het met 'n wonderlike uitreikinisiatief begin om omliggende skole te besoek en voornemende studente te help aansoek doen om aan die Universiteit Stellenbosch te studeer. Vir hulle eerste besoek was hulle by Hoërskool Sinako in Khayelitsha, waar 158 matriekleerders bereik is.
Vir foto's van die uitreik, gaan na: https://www.facebook.com/abrstellenbosch/posts/564270020413675.
Klasverteenwoordigers het ook die afgelope maand opleiding ontvang om te verseker dat hierdie struktuur studente optimaal bystaan.
Vir foto's van die opleiding, gaan na: https://www.facebook.com/abrstellenbosch/posts/564265490414128.
Laastens doen die ABR ook graag verslag dat die "naamlose eksamenreël" ook in die komende eksamen sal geld om te verseker dat antwoordstelle nie op grond van persoonlike vooroordele negatief nagesien word nie.
Taal
Die Universiteit Stellenbosch se huidige Taalbeleid bly 'n omstrede dokument wat onder skerp kritiek van vooraanstaande akademici en aktiviste deurloop. Die SR was dus bly om te kon deelneem aan die formulering van die nuwe beleid en glo dat die Raad ten gunste van 'n inklusiewe kampusomgewing sal stem.
Terwyl ons sal voortgaan om die Universiteit in die soeke na oplossings vir hierdie dringende kwessie te ondersteun, sal die SR aanhou saamwerk met sy belanghebbendes in die Verenigingsraad, die Primkomitee en die Akademiese Belangeraad om te verseker dat taal nooit as 'n hindernis op kampus dien nie. Enige verdere menings of gedagtes om ons saak te versterk, kan teen 5 Junie 2016 na [email protected] gestuur word.
Algemeen
Ons het as SR besluit om in ons laaste kwartaal steeds voluit te werk. Daarom belê ons in verskeie inisiatiewe, van TEDx Stellenbosch tot vennootskappe met die LaunchLab en MFM. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat ons voortdurend bietjie vir bietjie vorder met ons doel om 'n inklusiewe, innoverende en volhoubare kampus te skep.
In pas met hierdie doel, nooi ons graag alle studente om deel te neem aan ons fondswerwingsinisiatiewe vir studenteskuld en die "missing middle" (studente in die middelinkomstegroep wat nie vir staatshulp in aanmerking kom nie, maar wie se families nie universiteitstudie kan bekostig nie) met die oog op die SR vir 2016/17.
Ons moedig ook alle studente aan om ons te help reël aan toekomstige kritiesegespreksgeleenthede en -veldtogte sodat ons meer stemme en menings kan insluit om ons standpunte verder te versterk. 'n Universiteit is 'n ruimte van kennis, en hoewel ons dalk verskil oor hoe dinge moet gebeur, sal ons uiteenlopende menings help verseker dat ons uiteindelik eenstemmigheid bereik oor 'n gesamentlike en doeltreffende oplossing.
Om aansoek te doen om by die werkgroepe vir fondswerwing en kritiese gesprek aan te sluit (sperdatum: 20 Mei 2016), gaan na: https://docs.google.com/forms/d/1-8pe-4pjouC8xM0qTBjGbMvnLSqRAoJrLHSig2xiSNQ/viewform.
Boonop is die SR baie opgewonde om die benoeming van moontlike ontvangers van eregrade vir die hele studentegemeenskap oop te stel. Eregrade word toegeken aan akademiese en openbare figure wat die hoogste sport bereik het, en ons nooi studente om hulle benoemings sowel as 'n kort biografie van die benoemde teen 20 Mei 2016 by [email protected] in te dien.
Ons moedig studente aan om op die komende eksamen te bly konsentreer en sukses te behaal. Soos ek gesê het, is die SR daartoe verbind om ons laaste kwartaal 'n groot sukses te maak. Eweneens hoop ons dat alle studente ook sal kies om hulle akademiese loopbaan op hierdie kampus 'n sukses te maak.
Ons staan voor 'n ongelooflike oorgangstyd op ons kampus en in die land. Hoewel ek dikwels gefrustreerd voel met die stadige tempo van verandering op kampus, is ek dankbaar vir die vordering oor die afgelope kwartaal en dat die saad wat lank gelede gesaai is en eers onlangs begin uitkom het, nou werklik 'n verskil begin maak.
Kom ons gaan voort om die saad van verandering te saai namate ons nader beweeg aan ons ideale Stellenbosch. Dis nie glansryk nie en verg uithou en aanhou, maar die werk moet gedoen word om verandering te sien gebeur.
Tot volgende keer.
Vriendelike groete
Axolile Qina
SR-voorsitter 2015/16