
Sportgeneeskunde neem sprong vorentoe
Droom van toegang vir Jan Alleman gou werklikheid
Hy was al 'n konsultant vir die Springbokke, die Proteas en elite sokkerspelers, hy was 'n hoof- mediese beampte by vier Olimpiese en Paralimpiese Speles en hy is Rusland toe as Mark Shuttleworth se persoonlike dokter tydens dié se ruimtereis. Maar een van die veteraan-sportgeneeskundige prof Wayne Derman se grootste ambisies is om sportgeneeskunde na die openbare sektor te bring.
Derman, wat aangestel is as professor in sport- en oefengeneeskunde in die Afdeling Ortopediese Chirurgie van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, sluit hom aan by die Universiteit Stellenbosch tydens 'n wasdom vir dié gesondheidsdissipline in Suid-Afrika. Hopelik sal dokters teen einde 2015 in sportgeneeskunde kan spesialiseer, nes hulle tans kan in ortopedie, pediatrie, chirurgie of enige van die ander 25 spesialisgebiede wat tans deur die Kolleges van Geneeskunde van Suid-Afrika erken word.
'n Bekende gesig
Al was Derman vir die grootste deel van sy loopbaan verbonde aan die Instituut vir Sportwetenskap van Suid-Afrika by die Universiteit Kaapstad, sien hy die skuif na Stellenbosch as 'n 'natuurlike progressie'. Hy is reeds sedert 2008 hier betrokke toe hy die sportgeneeskundige geword het vir Maties se Paralimpiese atlete, wat by Coetzenburg gebaseer is. Hy het al talle akademiese artikels saam met die bekende Stellenbosse Paralimpiese afrigter dr Suzanne Ferreira geskryf en werk ook saam met die Departement Sielkunde aan navorsing oor atlete met gestremdhede.
"Stellenbosch het 'n baie ryk sportgeskiedenis en is 'n spilpunt vir beide plaaslike en internasionale atlete – Maties Sport is 'n groot, invloedryke organisasie. En daar is reeds heelwat mense wat op baie verskillende maniere werksaam is in sport- en oefenwetenskap en sportgeneeskunde by Stellenbosch.
"Op die hoofkampus is daar die Sportwetenskap- en Fisiologiedepartemente, asook die Departement Sielkunde wat navorsing doen oor atlete met gestremdhede. Dan is daar Coetzenburg, Maties Rugby, Maties Hokkie, Maties Tennis én Maties Atletiek, wat die hoofkwartier van Suid- Afrikaanse Paralimpiese afrigting is. Voorts speel Kampusgesondheid, met drie sportgeneeskundiges op sy personeel, ook 'n belangrike rol. Daar is ook die uiters produktiewe en navorsingsgedrewe Afdeling Fisioterapie hier op die Tygerberg-kampus.
"Die doel van die toekomstige instituut sal wees om belanghebbers oor verskillende fakulteite heen in te sluit en om samewerking en die gebruik van fasiliteite te verbreed," sê Derman, wat ook mededirekteur van die Internasionale Olimpiese Komitee se navorsingsentrum in Suid-Afrika is.
"Die instituut sal beide navorsing doen en fasiliteer aangaande die voorkoming van beserings en die beskerming van gesondheid van beide professionele en vryetyd-atlete. Insette sal ook gelewer word in die opleiding van multidissiplinêre kundiges wat by sport- en oefengeneeskunde betrokke is. Die instituut sal voorts betrokke wees by dienslewering en hopelik 'n groot maatskaplike bydrae kan lewer.
"Wat onderrig betref, hoop ons om sportgeneeskunde in die voorgraadse mediese kurrikulum in te bring, asook nagraads in die vorm van MPhil- en MMedgrade vir spesialiste, vir dokters en ander gesondheidspraktisyns wat in daardie gebiede wil spesialiseer, of diegene wat meesters- en doktorsgrade in spesifieke areas wil doen."
Sportgeneeskunde vir die massas
Die grootste geleentheid wat Derman met die stigting van dié instituut sien, is die moontlikheid om sportgeneeskunde in die openbare sektor te begin beoefen, miskien selfs so vroeg as middel 2016.
"My visie sal wees dat iemand na die hospitaal toe kan kom en 'n raadgewer kan kom sien wat hulle kan adviseer oor 'n gesonde leefstyl, sommer terwyl hulle wag vir medikasie by die buitepasiënt-kliniek. Miskien al daar 'n fasiliteit wees waar jy raad kan kry oor jou oefenbesering, oor hoe om te herstel en watter oefening om te doen om dit sterker te maak.
"Dit sou 'n multidissiplinêre span insluit, met die insette van 'n fisioterapeut, 'n dieetkundige en miskien selfs 'n sielkundige wat kan raad gee oor hoe om psigososiale stres te verminder, asook biokinetici wat oefenprogramme kan voorskryf. So iets bestaan glad nie op die oomblik nie."
Sy ervaring in private praktyk het aan hom bewys dat sportgeneeskunde geweldig relevant is buite hoëverrigting-, mededingende, professionele sport.
"Ortopedie is wonderlik. As jy 'n fraktuur het, kan jy dit uitsorteer. Daar is 'n oplossing beskikbaar, met of sonder chirurgie. Maar wat van daardie knaende, chroniese beserings? Dit het 'n daadwerklike invloed op lewensgehalte, maar is nie relevant in die openbare gesondheidsektor nie, want daar moet chirurge kyk na politraumas, motorongelukke – groot, ernstige beserings.
"Geneeskunde wat te make het met fisies aktiewe mense is dikwels baie subtiel. Sporten oefengeneeskunde is die spesialisgebied wat onderrig hoe om met chroniese, subtiele dinge te werk.
"Oefening ontbloot dikwels probleme. Dink maar aan iemand wat 'n onaktiewe lewe lei. Hulle het geen probleem met opstaan en na die boekrak toe stap of om 'n paar trappe te klim nie. Maar nou begin jy oefen en jou swakste skakel word ontmasker, of dit nou oefeninggeïnduseerde asma is of abnormale biomeganika van die been wat kniepyn veroorsaak.
"Oefengeneeskunde is taamlik komplekse en uitdagende geneeskunde en dis hoekom ek daarvan hou. Dit het 'n baie breë spektrum en kompleksiteit waar jy die swakste skakel in 'n ketting ontmasker en waar jy ook werk met fisiologie op die uiterste. Wanneer ons oefen, druk ons onsself tot by die maksimum. Dit is 'n uitdaging aan die stelsel. Dis ook hoekom ek daarvan hou om met atlete met gestremdhede te werk, want dit voeg nog 'n laag kompleksiteit by."
Oefening as medisyne
Nog 'n belangrike veld waar Derman groeipotensiaal sien, is waar oefening en ander leefstylintervensies gebruik word in die bestuur van chroniese, nie aansteeklike siektes.
"Meer as 50% van wat ek in my private praktyk gesien het is chroniese leefstylverwante siektes soos diabetes, hartsiekte, longsiekte en pasiënte wat herstel van kanker. Dit is regtig bevredigende werk. Hoe sieker die pasiënt, hoe groter die beloning, want hoe groter die verbetering in hul lewenstyl.
"'n Pasiënt ervaar dikwels 'n chroniese siekte as hul liggaam hulle in die steek gelaat het, of daar 'n gebrek aan vertroue is wat betref hoe ver jy jou liggaam kan vat. Dan begin jy 'n leefstylintervensie en na 'n rukkie besef die pasiënt: Ek kan in der waarheid iets doen, ek kan om hierdie baan kom, of hierdie fiets ry. Dit gaan daaroor om weer jou liggaam te leer vertrou en dit maak 'n beduidende verskil aan mense se lewe. Ek kry regtig 'n kick daaruit."
Hierdie artikel het oorspronklik in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se jaarlikse publikasie verskyn.