
Sosiale Media beleid en kennisgewing
Die Universiteit Stellenbosch (hierna “die US”) erken die belang van die internet en sosiale media (1) in openbare meningsvorming oor die Universiteit, sy dienste, studente, personeel en belanghebbendes. Die US erken ook die belangrike rol van studente- en personeelinteraksie op sosiale media om gesprekke te help stimuleer. Daarom word studente en personeel aangemoedig om aanlyn oor universiteitsake of verwikkelinge in die hoëronderwyssektor te kommunikeer.
Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat die gebruik van sosiale media as ’n kommunikasiekanaal onderworpe is aan bestaande beleide en prosedures van die Universiteit, in die besonder:
- die Dissiplinêre Kode vir Studente van die Universiteit Stellenbosch (vir studente);
- die Beleid oor Onbillike Diskriminasie en Teistering (vir personeel en studente); en
- die Elektroniese Kommunikasiebeleid (vir personeel en studente).
Alle studente en personeel is self verantwoordelik om hierdie beleide na te kom, en behoort tyd daaraan af te staan om dit te lees en te verstaan. Die beleide verbied wangedrag, teistering en viktimisasie op enige aanlyn platform. Aanlyn afknouery, skeltaal, naamskending, laster en/of beledigings val in dieselfde kategorie as soortgelyke kommunikasie van aangesig tot aangesig of op skrif. Bewerings van aanlyn wangedrag, teistering en viktimisasie word dus in ’n ewe ernstige lig as soortgelyke optrede deur die tradisionele kanale van mondelinge of skriftelike kommunikasie beskou. Persone wat deur sulke gedrag (soos wangedrag, teistering of viktimisasie op sosiale media) benadeel word, kan dit by die Universiteit Stellenbosch se Eenheid vir Gelykwaardigheid aanmeld, wat op hulle beurt die saak na gelang van omstandighede na die Afdeling Studentedissipline (vir studente) of die Afdeling Menslike Hulpbronne (vir personeel) sal verwys.
Die kontakbesonderhede van die Eenheid vir Gelykwaardigheid is soos volg:
- [email protected]
- 021 808 3136
- Victoriastraat 39, Stellenbosch
Die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie ontwikkel tans ’n omvattende beleid oor sosiale media. Totdat dit in werking tree, bly die bepalings van bestaande beleide en hierdie kennisgewing van krag.
Uitgereik deur die Senior Direkteur: Korporatiewe Kommunikasie
1 “Sosiale media” word omskryf as enige mobiele of webgebaseerde toepassing (“application”) of diens waardeur ’n gebruiker inhoud skep en uitruil, soos blogs, wiki’s, sosiale netwerke en ander interaktiewe webtuistes. Voorbeelde van sosiale media sluit onder meer in Facebook, Twitter, YouTube, Instagram en nuuswebtuistes wat lesers toelaat om kommentaar te lewer.