
Skoon hande red lewens
Jaarliks sterf 16 miljoen pasiënte wêreldwyd as gevolg van hospitaalverwante infeksies. Kieme en virusse is mikroskopies klein en kan nie met die blote oog raakgesien word nie. Hande is die algemeenste medium waardeur kieme en virusse in gemeenskappe en in hospitale oorgedra word.
Doeltreffende handhigiëne kan die moontlike oordrag van infeksies en verwante sterfgevalle in hospitale met tot 50% verminder.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) organiseer jaarliks op 5 Mei 'n Wêreldhandhigiënedag om bewusmaking oor die belangrikheid van goeie praktyke in handhigiëne te bevorder.
Vanjaar het die Eenheid vir Infeksievoorkoming en –beheer (EIVB) aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en die Tygerberg-hospitaal saam met hospitale en Instansies van regoor die wêreld hierdie inisiatief van die WGO ondersteun.
Die fokus vir 2016 is geplaas op die rol van skoon hande in veilige chirurgiese sorg. Ongeveer 300 mense, insluitend fakulteits- en hospitaalpersoneel asook studente het ʼn menseketting in die hospitaal se chirurgiese saal gevorm. Hulle het ʼn handhigiëne-aflosstokkie vir mekaar aangegee en goeie handhigiëne-praktyke toegepas voor én nadat hulle die aflosstokkie hanteer het.
Spanne en individue van ander sale in die Tygerberg-hospitaal is aangemoedig om plakkate oor handhigiëne te maak en die beste plakkate het vir ʼn verskeidenheid pryse in aanmerking gekom.
"Die voorkoming van infeksies en die vermindering van ʼn voorkombare las op gesondheidstelsels is tans steeds wêreldwyd ʼn kritieke probleem. Die toepassing van goeie handhigiëne help om te verseker dat elke gesondheidsorg-omgewing ʼn veilige plek is om ieder en elke pasiënt te behandel," het me Joria Cronje, ʼn dosent van die EIVB, gesê. "Dit is ʼn bekostigbare ingryping om infeksies te verminder en lewens te help red."