Skip to main content
SASUF maak gereed vir netwerkgeleentheid in September

SASUF maak gereed vir netwerkgeleentheid in September

SU International
31 Augustus 2022

Die kontakpersone van die verskillende Suid-Afrikaanse instellings in die Suid-Afrika–Swede-universiteitsforum (SASUF) het in Junie kontakvergadering by die Sweedse ambassade in Pretoria gehou. Afgevaardigdes het bespreek hoe navorsing-en-innovasiesamewerking tussen Suid-Afrika en Swede versterk kan word, en hoe hulle dít prakties kan toepas by die volgende groot netwerkgeleentheid, SASUF Goes Digital, wat van 19 tot 23 September 2022 sal plaasvind.

Weens die pandemie was dít SASUF se eerste kontakbyeenkoms in twee jaar. Die Sweedse ambassadeur in Suid-Afrika het die verrigtinge geopen. Afgesien van beplanning vir die komende netwerkgeleentheid, het personeellede van die verskillende instellings ook beste praktyke vir die bevordering van die netwerk en sy aktiwiteite by hulle onderskeie universiteite bespreek. Die Universiteit Stellenbosch (US) is verteenwoordig deur Sarah van der Westhuizen, bestuurder van die Sentrum vir Globale Skakeling, en Kirwan Adams, koördineerder van Multilaterale Samewerking en Inligtingsbestuur.

SASUF Goes Digital sal 'n virtuele navorsings-en-innovasie- (N&I-)week wees met werksessies, seminare, leierskapsvergaderings, paneelbesprekings en finansieringsgeleenthede. Deelnemers sal gedurende die geleentheid genooi word om aansoek te doen om virtueleprojektoekennings van tussen R250 000 en R400 000. SASUF se volgende N&I-week in kontakvorm sal van 27 tot 31 Maart 2023 in Suid-Afrika plaasvind. Hoewel daardie geleentheid uit dieselfde tipe inhoud as die aanlyn week sal bestaan, sal die finansieringsgeleenthede die vorm aanneem van navorsingsmobiliteitsteun (R85 000–R170 000). Om vir enige van die finansiering in aanmerking te kom, moet ten minste een van die aansoekers aan die betrokke N&I-week deelgeneem het.

Die US was die afgelope vyf jaar bevoorreg om aan 13 suksesvolle SASUF-projekte te kon deelneem, waarvoor die netwerk altesaam R2 miljoen in projekfinansiering beskikbaar gestel het. Die Universiteit het ook die N&I-week van 2019 op Stellenboschkampus aangebied.

Om meer uit te vind oor die US se netwerk, klik hier.​