Skip to main content
Samewerking met CCARDESA verstewig om landboukunde in Suider-Afrika te bevorder

Samewerking met CCARDESA verstewig om landboukunde in Suider-Afrika te bevorder

Engela Duvenage
12 November 2021

Die verhouding tussen die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit AgriWetenskappe en CCARDESA, die sentrum vir die koördinering van landbounavorsing en -ontwikkeling in Suider-Afrika, is versterk deur die ondertekening van 'n memorandum van verstandhouding tussen die twee partye.

CCARDESA is 'n nie-winsgewende organisasie wat in 2010 op die been gebring is deur die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG). Dit koördineer sedertdien die implementering van landbouverwante navorsing en ontwikkeling in die SAOG-streek. Die doel is om op 'n volhoubare wyse voedselsekuriteit in Suider-Afrika te versterk en armoede te beveg. Dit sluit sodoende aan by die belangrikste strategiese oogmerke en beleidsdokumente van die SAOG.

Die ondertekening van die memorandum van verstandhouding het by CCARDESA se hoofkwartiere in Gaborone in Botswana plaasgevind. Die US Fakulteit AgriWetenskappe is verteenwoordig deur prof Kennedy Dzama, die fakulteit se vise-dekaan: navorsing, nagraadse studies en innovasie, en CCARDESA deur sy waarnemende uitvoerende direkteur, dr Baitsi Podisi.

CCARDESA en die US sal wedersyds baat vind uit die onderskeie organisasies se sterk punte, deur gesamentlike aktiwiteite op verskillende gebiede aan te pak. Dit sluit in:

  • Gesamentlike navorsingsprojekte en publikasies oor strategiese en ontluikende navorsingsonderwerpe van wedersydse belang;
  • Die uitruil van wetenskaplike inligting, kennis, innovasie en tegnologie wat gereed is om tot 'n hoër vlak geneem te word, of af te lewer, asook ontwikkelingsprosesse en idees rondom beste praktyke;
  • Die uitruil van navorsingsmateriaal, publikasies en ander verwante materiaal;
  • Raadplegende vergaderings en wedersydse besoeke deur personeel;
  • Plasings en/of uitruil van studente/personeel;
  • Kapasiteitsontwikkeling en die ondersteuning van talent deur die aanbied van ondersteuningsdienste, insluitend opleiding en leiding, en landbouverwante inkubasie-ekosisteme in geïdentifiseerde gebiede in die SAOG-streek;
  • Die fasilitering van entrepreneurskapsprogramme regoor die landbouwaardeketting; en
  • Gesamentlike fondswerwing, kapasiteitsuitbouing en uitreikaksies.

Volgens prof Dzama is beplanning rondom 'n gesamentlike innovasie- en entrepreneurskapsprogram reeds in 'n gevorderde stadium. Daar word beplan dat ontluikende entrepreneurs en innoveerders vanuit SAOG-lande as gaste van die US se Agri-Innovation Hub die kans sal kry om hul idees tot bewese besigheidsgeleenthede en beginner-besighede te ontwikkel wat daarop gemik is om verwante probleme in die Suider-Afrikaanse landbousektor aan te spreek.

"Een van die grootste voordele van die samewerkingsgeleentheid is dat ons twee instellings saam sal kan aansoek doen vir van grootskaalse kontinentwye befondsingsgeleenthede. Dié vereis tipies 'n uitgebreide netwerk van vennote wat saam strategiese projekte en navorsingsinisiatiewe oor landbouproduksie, innovasie en entrepreneurskap kan dryf," voeg prof Dzama by. “Aansoekers sukkel dikwels om sterk genoeg vennootskappe uit Afrika te vorm."

“Deur hierdie vennootskap trek die US voordeel uit CCARDESA se wye Suider-Afrikaanse netwerk, en kan die instelling bydrae tot pogings om die landbousektor in Afrika te bevorder, om voedselsekuriteit te verbeter en om die mense van die vasteland uit armoede te help lig," sê hy ook.

“Ons sal daarna streef om wetenskapskennis, inligting, innovasie en tegnologie uit te ruil wat gereed is om na die volgende vlak geneem te word, en hoop om wedersyds waardevolle lesse by mekaar te leer oor onder meer ontwikkelingsprosesse."

Dr Podisi het die waarde van die samewerkingsooreenkoms vir die streek benadruk, veral gegewe die gebrek aan hulpbronne wat bestaan. Hy sê dié is 'n kwessie wat weer eens te midde van die COVID-19 pandemie duidelik geword het.

“CCARDESA sien na die samewerking met die US uit, aangesien dit die tuiste is van die beste landboufakulteit in Afrika," het dr Podisi gesê. “Ons werk al geruime tyd informeel saam, maar met hierdie memorandum van verstandhouding word ons verhouding geformaliseer en erken. Ons verwag dat ons netwerk die geleenthede wat sodoende gebied word, sal benut."

Geskryf deur: Engela Duvenage, namens die Fakulteit Agriwetenskappe, Universiteit Stellenbosch.