
SA moet weer kyk na sy definisie van ’n humanitêre vlugteling
Wêreldhumanitêre dag is op 19 Augustus gevier. In ʼn meningsartikel vir Mail & Guardian het dr Callixte Kavuro van die Department Publiekreg geskryf dat Suid-Afrika weer moet kyk na sy definisie van 'n humanitêre vlugteling en hoe hierdie definisie in verskillende situasies toegepas word.
- Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.
Callixte Kavuro*
Lande en samelewings het op 19 Augustus Wêreldhumanitêre dag gevier en die slagspreuk was 'dit verg 'n klein dorpie om mense in nood te ondersteun'. Hierdie slagspreuk stem ooreen met die Afrika-filosofie van solidariteit waarop die 1969 Afrika-unie se Konvensie vir die Regulering van spesifieke aspekte van Vlugtelingprobleme in Afrika (die AU-konvensie) gegrond is.
Met die aanvaarding van hierdie konvensie, het Afrikalande en -regerings verstaan dat die humanitêre beskerming van vlugtelinge en asielsoekers – wat verplig is om hul tuistes te verlaat weens krisisse buite hul beheer – nie net een land se las moet wees nie. Daarom stel Artikel 2(4) van die AU-konvensie dit dat “wanneer 'n Lidland [van die AU] dit moeilik vind om asiel aan vlugtelinge toe te staan, hierdie Lidland 'n direkte beroep op ander Lidlande en deur die [AU] kan doen, en hierdie ander Lidlande sal in die gees van Afrika-solidariteit en internasionale samewerking gepaste stappe doen om die las van die Lidland wat asiel bied, te verlig".
Onlangse data van Statista toon dat Uganda in 2021 die meeste vlugtelinge (meer as 1,5 miljoen) op die vasteland gehuisves het, gevolg deur Soedan (1,1 miljoen), Etiopië (821 300), Tsjad (555 782), Kenia (481 048), Kameroen (457 269), Egipte (280 686), Niger (249 945) en Rwanda (121 896).
In 2020 het Suid-Afrika 255 200 gedwonge verplaasde persone gehuisves, waarvan 76 800 amptelik as vlugtelinge erken is en 173 500 individue was wie se asielaansoeke nog hangende was. Weens die sluiting van die Vlugtelingontvangskantore is daar ook 'n onbekende aantal ongedokumenteerde asielsoekers en onwettige immigrante. Anders is in ander gasheerlande waar vlugtelinge en asielsoekers in vlugtelingkampe woon, laat Suid-Afrika hulle toe om by plaaslike gemeenskappe in te skakel.
Hierdie benadering om hulle nie in kampe te laat woon nie, is 'n rede tot kommer weens die ernstige risiko's en uitdagings wat dit inhou. Een hiervan is die onvermoë om ongedokumenteerde immigrante en asielsoekers in gemeenskappe regoor Suid-Afrika op te spoor. Dit maak dit moeilik om betroubare statistieke te hê van individue wat hul tuislande verlaat weens krisisse soos politieke vervolgings, menseregteskendings, klimaatsverandering en ander gebeure wat openbare orde ontwrig.
En die regering kla al vir die afgelope dekade dat die land 'n bestemming vir asielsoeker-bedrieërs geword het wat hul tuistes verlaat om ekonomiese geleenthede te gaan soek. Die ANC se 2012 Dokument oor Vrede en Stabiliteit dui met groot kommer aan dat die grootste uitdaging vir die bied van politieke asiel aan individue in krisissituasies is dat meer as 95% van diegene wat op hierdie beskerming aanspraak gemaak het, nie ware asielsoekers was nie.
In reaksie op hierdie probleem het Suid-Afrika veiligheidsmagte onder die Grensbestuurowerheid ontplooi om sy poreuse grense of kwesbare dele langs die grenslyn te beveilig en om te verseker dat ongedokumenteerde immigrante nie toegang tot die land kry nie. Omdat Suid-Afrika 'n Eurosentriese benadering tot politieke asiel het, doen die land nie 'n beroep op ander Afrikalande om sy las van vlugtelingbeskerming ingevolge die voorsienings van Artikel 2(4) van die AU-konvensie, te verlig nie.
Hierdie Eurosentriese benadering tot die beskerming van vlugtelinge is duidelik in die land se strategie om nie vlugtelingkampe te hê nie en die diskwalifikasie van sowat 95% van asielaansoeke op grond daarvan dat hulle nie aan die voorwaardes vir politieke asiel voldoen nie. In praktyk volg Suid-Afrika die Verenigde Nasies se Konvensie rakende die Status van Vlugteling van 1951 (VN-konvensie) die 1967 Protokol Rakende die Status van Vlugteling vir sy eie politieke definisie vir die term 'vlugteling'. Geen of baie min aandag word aan die AU-konvensie gegee om ander individue in 'n humanitêre krisis te beskerm.
Ten slotte …
Suid-Afrika het die AU-konvensie aanvaar en bekragtig en het dit deel van die land se regstelsel gemaak deur die Wet op Vlugtelinge van 1998 (Wet 130 van 1998). Aangesien artikel 3(b) van hierdie wet uitvoering gee aan die definisie van 'n humanitêre vlugteling, moet Suid-Afrika weer gaan dink oor hoe hierdie definisie toegepas moet word in werklike situasies en hoe daar tussen politieke vlugtelinge en humanitêre vlugtelinge onderskei moet word ten einde die aard en omvang van hul asielbeskerming te verstaan. Dit gaan die regering en al die landsburgers verg om mense wat van humanitêre krisisse wegvlug, te ondersteun en om met ander lande en samelewings in gesprek te tree oor hoe daar op hierdie krisisse gereageer moet word sodat wanneer vlugtelinge en asielsoekers besluit om na hul tuislande terug te keer, hulle weet dit is veilig om dit te doen.
Klik hier om die res van die artikel soos geplaas te lees.
- Foto met vergunning van Wikimedia Commons.
*Dr Callixte Kavuro is 'n postdoktorale navorser in die departement Publiekreg aan die Universiteit Stellenbosch.