Skip to main content
Rektorstoekenning bevestig dat harde werk vrugte afwerp

Rektorstoekenning bevestig dat harde werk vrugte afwerp

Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
02 November 2021

Om 'n Rektorstoekenning te onvang, voel ietwat onwerklik, sê Lwazi Madi, 'n Maties-waterpolospeler en kaptein van die Suid-Afrikaanse waterpolospan wat vroeër vanjaar aan die Olimpiese Spele in Tokio deelgeneem het.

Madi, 'n meestersgraadstudent in Sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US), is een van vanjaar se 82 ontvangers van die jaarlikse Rektorstoekennings vir Uitnemende Prestasie. Die toekennings gee erkenning aan en vier studente se prestasie op die volgende gebiede: akademie, sport, leierskap, sosiale impak, kultuur en diensverskaffing. Madi het die toekenning die sportafdeling ontvang.

“Om erkenning vir jou prestasies, veral só 'n belangrike toekenning, te ontvang bevestig dat jou harde werk besig is om vrugte af te werp. Dit motiveer en moedig jou ook aan om aan te hou verbeter," sê hy.

Madi se liefde vir waterpolo het in sy hoërskooljare by die St Stithians Seunskool in Johannesburg begin. Hy het krieket gespeel op skool, maar het een warm somersdag besluit om vir die waterpolo-proewe in te skryf. Sedertdien is hy verlief op die sport en het tot op hede in meer as 40 internasionale wedstryde gespeel. Dit sluit onder meer in as lid van die Suid-Afrikaanse span by die Interkontinentale waterpolokampioenskap in Sidney, Australië en die FINA Wêreldwatersportkampioenskap in Gwangju in Suid-Korea.

Madi, wat in 2015 aan die US begin studeer het, sê hy moes 'n balans vind tussen sy akademiese verantwoordelikhede en die eise wat sy sportloopbaan stel. Hy het dit reggekry deur duidelike doelwitte te stel, sy tyd optimaal te benut en om klein prestasies te waardeer.

Hy sê 'n mens behaal nie oornag sukses nie en dit verg opofferings.

​“Maar op die ou einde sal jy terugkyk op die doelwitte wat jy bereik het en weet dat daardie opofferings die moeite werd was," sê hy.

Klik hier om meer te lees oor die Rektorstoekennings en die ontvangers. 

* Altesaam 82 van die Universiteit Stellenbosch (US) se topstudente is onlangs met Rektorstoekennings vir uitnemendheid op die gebied van die akademie, leierskap, sosiale impak, kultuur, sport en dienslewering vereer.  Ons sal in die komende weke sommige van die wenners bekend stel.