
Rektor lei Maties in Kaapstad Fietstoer
Prof Wim de Villiers, rektor en visekansellier van Maties, lei Sondag (10 Maart) weer 'n span fietsryers bestaande uit alumni, personeel, studente en vriende van die Universiteit Stellenbosch (US) in die grootste tydhou-fietswedren ter wêreld – dié keer om geld in te samel vir #Move4Food.
Dit sal die derde keer wees dat De Villiers vir 'n goeie doel gaan sweet. In Maart 2018 het hy die Kaapstad-fietstoer aangepak om die Universiteit se Eeufeesjaar te gedenk en om geld vir studentebeurse in te samel, en in September verlede jaar het hy die volle 42 km Sanlam Kaapstad Marathon voltooi – ook ten bate van #Move4Food.
Hierdie veldtog is in Augustus 2018 van stapel gestuur met 'n ambisieuse doelwit van R10 miljoen. Daar word beoog om voedselnood onder studente op US-kampusse te verlig deur volhoubare voedselbanke te vestig. Sover is die veldtog op verskeie maniere goed ondersteun. Tot op hede is R1 miljoen se donasies en goedere reeds ingesamel. Die veldtog loop op 19 April 2019 ten einde.
Ook deel van die #100Maties-span van 27 lede Sondag sal studente van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe op die Tygerbergkampus wees wat verlede jaar al die pad van Vioolsdrift op die Namibiese grens tot by Kaap Agulhas – 'n afstand van 902 km – fietsgetrap het ter ondersteuning van #Move4Food. Die groep – bestaande uit Breda Reed, Mias Marais, Luke Titus, Christoff Greyling en Wonderboy Nkosi – het op dié tog meer as R59 000 ingesamel. Hulle sal eerskomende naweek weer kragte saamsnoer in die Kaapstad Fietstoer. Klik op die skakel hieronder om hulle te ondersteun.
De Villiers het uitgewys 'n onlangse studie deur die Nasionale Navorsingstigting het bevind dat meer as 30% van universiteitstudente in Suid-Afrika voedselonsekerheid beleef. “Dit affekteer nie net hul akademiese uitslae nie, maar ook hul fundamentele menswaardigheid. Matiestudente is besig om voedselbanke te vestig om te verseker dat geeneen van hul maats klas toe hoef te gaan op 'n leë maag nie. Die inisiatief geniet my volle steun, en ons sal bykomende hulp baie waardeer."
Wees ons gas
Alle Maties wat Sondag aan die Kaapstad Fietstoer deelneem, word uitgenooi na die Universiteit se onthaalruimte by die Kaapstad-stadion – dit is US-alumni, -personeellede en -studente. Daar sal hulle voete in die lug kan sit, ligte verversings kan geniet en 'n verfrissende sportmassering kan kry terwyl hulle saam kuier. Plek is egter beperk en ryers sal toegang kry soos hulle klaarmaak en opdaag van tussen 09:00 en 16:00.
- Om enige van die #Move4Food-projekte te ondersteun, besoek asb. die webblad, http://bit.ly/Move4Food-projects.