Skip to main content
Registrasie gaan voort ondanks poging om te ontwrig

Registrasie gaan voort ondanks poging om te ontwrig

Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
27 Januarie 2016

​Registrasie vir die 2016 akademiese jaar sal voortgaan by die Universiteit Stellenbosch ondanks vanmiddag (Woensdag, 27 Januarie) se poging om die proses te ontwrig. Gebeurlikheids-maatreëls is getref om te verseker dat die registrasieproses kan voortgaan.

'n Groep van agt tot tien studente het ongeveer 14:45 as deel van protesaksie die Admin A-gebou binnegekom om protes aan te teken teen die betaling van studentegelde. Registrasie is nie ontwrig nie, maar studente wat probeer het om betalings te maak, is geïntimideer.  

Personeel van die Sentrum vir Studentegemeenskappe het met die groep in gesprek getree en teen 16:30 het die studente self besluit om die gebou te verlaat.

 Die Universiteit het dit duidelik gestel dat die veiligheid van studente en personeel, en die beskerming van eiendom ononderhandelbaar is en dat die instelling alles moontlik sal doen om te verseker dat die verwelkomingsprogram en registrasieproses sonder ontwrigting sal verloop.

Die US erken die reg van personeel en studente om aan protesaksies deel te neem, mits akademiese en administratiewe aktiwiteite nie ontwrig word nie; dat die regte van mede-studente om te studeer nie aangetas word nie; en dat protesgroepe nie in onwettige aksies soos die beskadiging van eiendom, intimidasie en die besering van mense betrokke raak nie.

In hierdie verband sal die Universiteit nie aarsel om teen studente op te tree wat registrasie of enige ander administratiewe of akademiese aktiwiteite ontwrig nie.

Die afdeling Beurse en Lenings aan die US is daartoe verbind om te help verseker dat finansiële uitdagings nie in die pad staan van ons studente se akademiese sukses nie.