
Programvernuwing hou tred met veranderende behoeftes van werkplek
Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch het aangekondig dat dié fakulteit volgende jaar twee nuwe programme van stapel gaan stuur om tred te hou met die veranderende behoeftes in die werksomgewing.
Die programme – 'n B-graad in datawetenskap en 'n nagraadse diploma in strategiese menslikehulpbronbestuur – is in ooreenstemming met die Universiteit se programvernuwingsdoelwitte: om uitnemendheid en toeganklikheid te verseker en studente toe te rus om leiers op hul onderskeie terreine te word.
Volgens prof Ronel du Preez, visedekaan (leer en onderrig) verantwoordelik vir die fakulteit se programvernuwingsinisiatief, is die nuwe programme daarop gemik om studente te help om by die veranderende werksomgewing aan te pas.
Die programvernuwingspan sluit ook Magda Barnard, koördineerder van die program, en dr Gert Young van die Sentrum vir Onderrig en Leer in.
Die vier jaar lange B-graad in datawetenskap (BDatWet) bied studente die geleentheid om kennis rakende grondslagmodules in kerndissiplines soos statistiek, rekenaarwetenskap en wiskunde op te doen. Hulle sal ook blootgestel word aan nuwe tegnologieë en konsepte op die gebied van datawetenskap.
“Werk op feitlik alle terreine word meer datagedrewe, en hierdie voortgesette transformasie van werk verg 'n aansienlike kader talentvolle gegradueerdes met hoogs ontwikkelde vaardighede en kennis in datawetenskap. Dié graad bied rus gegradueerdes toe met die vaardighede om werklike probleme op te los in genetika, gesondheidsorg, e-handel, finansies, kleinhandel en die openbare sektor," het Du Preez gesê.
Die nagraadse diploma in strategiese menslikehulpbronbestuur is die eerste program in die fakulteit wat ontwerp is vir 'n hibriede leeromgewing. Dit sal uit beide aanlyn- en kontaksessies bestaan.
Die fakulteit het ook die breë program BCom (Bestuurswetenskappe) vernuwe. Alle fokusareas van die BCom-program word na BCom (Bestuurswetenskappe) geskuif, terwyl die program bykomende modules soos statistiek en datawetenskap, en sakekommunikasie sal insluit. Die 'nuwe' BCom (Bestuurswetenskappe)-program word vanaf 2021 aangebied.
Dekolonisering van die kurrikulum word as 'n belangrike deel van programvernuwing beskou. Du Preez het die proses wat gevolg word soos volg verduidelik: “Dekolonisering maak 'n integrale deel van ons kurrikulumproses uit. Dit vind in die modulevernuwingsprosesse plaas – ons ekonomie-departement stel byvoorbeeld dekolonisering in werking deur die CORE-kurrikulum (Curriculum Open-Access Resources in Economics) te implementeer."
Hoewel dekolonisering van die kurrikulum belangrik is, word ander aspekte van programvernuwing ook as noodsaaklik geag. Dit sluit die volgende in: finansiële volhoubaarheid van die programaanbod, samehang van programme oor modules en studiejare heen, werklading van studente en dosente, die ontwikkeling van gewenste eienskappe by graduandi, buigsaamheid tussen kontaksessies en selfleer, asook toepaslike assesseringsmetodes.
Du Preez het bygevoeg dat kurrikulumvernuwing en die ontwikkeling van nuwe programme 'n lang proses is wat tot drie jaar kan duur voordat al die eksterne akkreditasies plaasgevind het.
“Programvernuwing sal voortgaan. Dosente is gedurig besig om hul modules te hernu; daarom is dit goed om van tyd tot tyd oorsigtelik na programme te kyk – as jy jou eie module voortdurend hersien sonder inagneming van die moontlike impak daarvan op die program, kan dit negatiewe gevolge inhou," het sy gesê.
- Foto: Anna Lusty