Skip to main content
Prof Nadine Bowers-Du Toit help geloofsleiers om belangrike samelewingskwessies aan te spreek

Prof Nadine Bowers-Du Toit help geloofsleiers om belangrike samelewingskwessies aan te spreek

Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
04 Augustus 2023

Prof Nadine Bowers-Du Toit, hoof van die Departement Praktiese Teologie en Missiologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), het Donderdag 3 Augustus 2023 haar intreerede gelewer. Die titel van haar lesing was “'Vertel' ons verlede / Maak aanspraak op ons toekoms: Teologie en Ontwikkeling se volwassewording in Suid-Afrika".

Bowers-Du Toit het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe haar navorsing geloofsleiers help om die rol en verantwoordelikheid van die kerk in die aanspreek van belangrike kwessies in die samelewing te verstaan.

Vertel ons meer oor jou navorsing en wat jou belangstelling in hierdie spesifieke veld geprikkel het.

My ouers was 'n predikantspaar wat in die sewentiger en tagtigerjare die gemeenskappe van Steenberg en Lavender Hill op die Kaapse Vlakte bedien het. Hierdie gemeenskappe het ernstige sosio-ekonomiese uitdagings beleef. My ouers het vas geglo die rol van die kerk is om gemeenskappe te help om kwessies soos armoede en ongeregtigheid aan te spreek. So ek het as kind eerstehands transformatiewe geloofsgebaseerde gemeenskapswerk gade geslaan.

Ek het egter mettertyd gesien dat baie kerke en kerkleiers nie hulle rol en roeping ten opsigte van die kwessies van armoede, ongelykheid en ongeregtigheid ten volle begryp het nie. Dit het my aangemoedig om in my PhD-studie aan die US op Lavender Hill en plaaslike kerke se deelname (en hindernisse tot deelname) daar ten opsigte van die kwessie van armoede te fokus. 

Ek moet ook net noem dat die vakgebied van Teologie en Ontwikkeling vanjaar presies 25 jaar gelede in Suid-Afrika en by ons Universiteit sy inslag gekry het. Ek was een van die eerste voorgraadse studente om onderrig in hierdie subdissipline te ontvang. Daardie klasse wat ek 1998 bygewoon het, het my passie vir geloof en gemeenskapsdeelname bymekaar gebring en ek was die eerste persoon om in 2005 'n PhD in hierdie subdissipline aan die US te behaal. My intreerede vanjaar voltooi dus nie net die kringloop vir my as individu nie, maar ook vir die vakgebied. 

Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?

Dit word algemeen aanvaar, of deur vorige Sensus-data aangedui, dat sowat 80% van alle Suid-Afrikaners Christene is. Nogtans gaan Suid-Afrika steeds onder hoë vlakke van armoede, ongelykheid, geslagsgebaseerde geweld, rassisme, korrupsie, ensovoorts gebuk. Hierdie teenstelling is 'n uitdaging vir gelowige mense en meer spesifiek die kerk, aangesien ons Bybel 'n profetiese oproep is om baie van hierdie kwessies aan te spreek.

My werk behels deels om geloofsleiers deur my vakkundigheid asook op voetsoolvlak deur onderrig en opleiding te help om die rol en verantwoordelikheid van die kerk te verstaan om sosio-ekonomiese kwessies aan te spreek – veral die rol van die plaaslike kerk om aansluiting by mense op voetsoolvlak te vind. Hoewel hierdie vakgebied reeds die afgelope 25 jaar deel van ons kurrikulum by die Fakulteit Teologie is, het teologiestudente al hoe meer aangedui dat dit die tipe vak is wat hulle sal toerus om agente van verandering in hulle gemeenskappe te wees.

Ek moet ook daarop wys dat my werk ook behels om rasse- en geslagsongeregtigheid aan te spreek, aangesien dit steeds snydende kwessies is. Ek is veral bevoorreg om bande te hê met én 'n aantal geloofsgebaseerde organisasies te dien wat direk met hierdie kwessie werk.

Hoe help jou navorsing geloofsorganisasies om gemeenskapsontwikkeling en maatskaplike geregtigheid in Suid-Afrika te bevorder?

Daar is nie 'n eenvoudige antwoord op hierdie vraag nie, aangesien gemeenskapsontwikkeling van die spesifieke konteks afhang. Ek verkies om minder oor die “hoe" (hoewel daar instrumente is en ek oor heelwat daarvan klasgee) en meer oor “houdings" te praat wat ons as agente van verandering in die gemeenskap moet ontwikkel. Daarom is die heel belangrikste eerste stap vir geloofsgebaseerde organisasies (en hier sluit ek plaaslike kerke en geloofsgebaseerde niewinsgewende organisasies in) om geestelik stewig geanker te wees en te luister na waarmee die Here (in die teologie praat ons van “onderskeiding") reeds in hierdie gemeenskappe besig is. Ons wil al te dikwels ons eie idees afdwing sonder om eers tyd en energie te spandeer om meer te wete te kom oor die bates en agentskap wat reeds in sulke gemeenskappe bestaan.

Nog 'n moontlike belangrike “houding" is dat ons dit nie alleen kan doen nie. Ons moet netwerke met ander geloofsgebaseerde spelers én die wyer burgerlike samelewing vorm om die uitdagings wat ons ondervind, aan te spreek. Dit is die presiese strategie wat geloofspelers gedurende die apartheidstryd gebruik het en ons moet dit weer ernstig opneem om ons huidige probleme op te los.

Jy is reeds baie jare in die uitdagende hoëronderwysomgewing. Hoe bly jy gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?

Ek is reeds 21 jaar in die hoër onderwys en 10 jaar by die US. Ek was nog baie jonk toe ek begin klasgee het, met die gevolg dat baie van my oudstudente vandag ervare gemeenskapsontwikkelaars of predikante is. Dit gee vir my baie vreugde om te sien hoe hulle transformerende gemeenskapswerk doen wat 'n verskil maak. Ek het juis 'n week gelede 'n boodskap van 'n vrou ontvang wat meer as 15 jaar gelede in my klas was en later 'n niewinsgewende organisasie gestig het wat met gemarginaliseerde vroue en meisies werk. Sy het die tyd afgestaan om vir my 'n innige boodskap te stuur om my te bedank vir die maniere waarop my klasse rigting aan haar werk gegee het. Ek dink nie daar is 'n beter motivering as dit nie.

Wat is vir jou die lekkerste deel van jou werk?

Dit is regtig vir my lekker om te sien hoe studente wat 'n verskil in die samelewing wil maak, dit snap en geïnspireer word wanneer ek vir hulle klasgee of met hulle werk, en dan uitgaan om self die verandering te wees wat hulle in die wêreld wil sien.

Wat sou jou boodskap aan jongmeisies wees wat 'n loopbaan in die teologie oorweeg?

Om klas te gee in teologie of om te studeer om 'n geordende predikant te word, is soveel meer as 'n loopbaan – dit is 'n roeping en dit is nie altyd maklik in 'n veld wat deur mans oorheers word nie. Jesus was self 'n voorstander van vroue en daar was verskeie vroulike kerkleiers in die vroeë kerk. So, al is vroue se stemme vir baie eeue stilgemaak in die kerk, het ons jong vroue nodig wat in die teologie studeer en hulle roeping ontdek sodat die ware beeld van God in kerk- en gemeenskapsleierskap verteenwoordig kan word.

Vertel ons iets opwindends oor jou lewe wat mense nie sou verwag nie.

Ek weet nie hoe opwindend dit is nie, maar ek wou eens op 'n tyd 'n kunsonderwyser word. Kuns was een van my matriekvakke en ek geniet dit om te skilder – hoewel ek nie meer baie tyd kry om hierdie stokperdjie te beoefen nie.

Wat doen jy in jou vrye tyd?

My gunsteling-tydverdryf is om gehaltetyd saam met boesemvriende en familie te spandeer – om tyd saam met hulle deur te bring, te gesels en bordspeletjies te speel. My geheime plesier is om reekse te kyk – dit help my om af te skakel.