
Plaaslike Paralimpiese atlete alles van die beste toegewens
"Gooi mielies!"
Dit is die boodskap op die kralebandjie wat Saterdag deur Sean Surmon, hoof van die Hoëprestasie-eenheid by Maties Sport, aan lede van die Maties Parasport-klub wat aan die Paralimpiese Spele gaan deelneem, oorhandig is.

Verskeie van die atlete het 'n afskeidsfunksie wat deur Maties Sport aangebied is, bygewoon. Daar het Matsobane Jerry Laka, Adjunkdirekteur: Steundienste by Maties Sport, hulle alles van die beste toegewens.
Altesaam 15 lede van die Maties Parasport-klub is by die Suid-Afrikaanse Paralimpiese span ingesluit. Hulle is Anruné Liebenberg, Charl du Toit, Dyan Buis, Ilse Hayes, Arnu Fourie, Fanie van der Merwe, Zanele Situ, Reinhardt Hamman, Roxy Burns, Hendri Herbst, Achmat Hassiem, Ernst van Dyk, Craig Ridgard, Justine Asher en Goldy Fuchs. Die SA span bestaan uit 44 lede.
Drie plaaslike afrigters, dr Suzanne Ferreira, dr Karin Hugo en Karin le Roux, sal die deelnemers vergesel.
Lees meer oor die span hier.
Die plaaslike atlete het Dinsdag van Kaapstad na Johannesburg vertrek waar hulle by die res van die span sal aansluit.
Vriende, familielede en ondersteuners het op die lughawe bymekaargekom om foto's te neem, handtekeninge te kry en die Paralimpiese deelnemers te groet.
Een van die mense op die lughawe was Brandon Beack, 'n talentvolle rolstoelatleet. Brandon, wat slegs 18 maande gelede by sport vir persone met gestremdhede betrokke geraak het, is onlangs by die Mail & Guardian se lys van 200 Jong Suid-Afrikaners vir 2016 ingesluit. Hy het gesê hy hoop om oor vier jaar as deel van die Paralimpiese span na Tokio, Japan, te vertrek.
"Ware krag spruit nie uit jou fisieke vermoëns nie, dit kom van binne. En hierdie SA Paralimpiese span bestaan uit van die sterkste individue wat ek ken. Ek streef om soos julle te wees," het hy na die tyd op sy Facebook-blad geskryf.
Corné Rossouw, voorheen verbonde aan die Departement Sportwetenskap by die Universiteit Stellenbosch (US), het ook die atlete kom ondersteun. Sy was die spanbestuurder van die Paralimpiese span wat in 1992 na Barcelona gereis het, en het ook die span na Atlanta (1996) en Sydney (2000) vergesel. Rossouw was nou betrokke by die vestiging van strukture vir sport vir persone met gestremdhede by die US.
Foto:
Lede van die Maties Parasport-klub op pad na Rio: Voor is Ernst van Dyk, Ilse Hayes, Zanele Situ, Wentzel Barnard (Bestuurder: Maties Parasport) en Anruné Liebenberg. Agter is Arnu Fourie, dr Karin Hugo (afrigter), Roxy Burns, Karin le Roux (afrigter), Hendri Herbst, Reinhardt Hamman en Fanie van der Merwe.