Skip to main content
Personeel geloof vir hul 'behendige veerkragtigheid' gedurende pandemie

Personeel geloof vir hul 'behendige veerkragtigheid' gedurende pandemie

Naude van der Merwe
26 Augustus 2022

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het gedurende die Covid-19-pandemie gefloreer danksy die harde werk, toewyding en “behendige veerkragtigheid" van sy personeel.

Dít was die boodskap van prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, by die tweede personeelbyeenkoms van 2022 in die Konservatorium se Endlersaal. Dit was ook die eerste personeelvergadering wat personeel persoonlik kon bywoon sedert die begin van 2020.

Die tema was 'Verander die spel vir volhoubare sukses' en De Villiers het die personeel weer eens bedank vir hul ekstra moeite in die moeilike omstandighede wat voortdurend verander het in die afgelope meer as twee jaar.

Daarom, het hy gesê, kom die instelling sy twee hoofdoelwitte in hierdie tydperk bereik. Eerstens is die akademiese jare suksesvol afgelê, en tweedens is die volhoubaarheid van die instelling verseker.

De Villiers het gesê die Universiteit het vir alle praktiese doeleindes “na normaal" teruggekeer, maar het personeel gemaan om steeds versigtig te wees vir 'n moontlike opvlamming van Covid-19 en het hulle aangemoedig om ingeënt te word.

Hy het ook die Universiteitsbestuur se fokus op transformasie – na aanleiding van die voorval by Huis Marais in Maart – beklemtoon. Hy het gesê die Kommissie van Ondersoek na bewerings van rassisme by die US onder leiding van oudregter Sisi Khampepe sal na verwagting sy verslag met aanbevelings teen nie later nie as die middel van Oktober lewer.

Aangesien Augustus ook Vrouemaand is, het De Villiers ook die #USVroue-veldtog en die buitengewone prestasies van vroue op die personeel uitgelig. Hy het gesê hy is opgewonde oor die rol wat prof Sibusisu Moyo, die US se nuwe Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, gaan speel. “Sy sal beslis ons vroueleierskap hier by die US versterk en ondersteun."

Prof Eugene Cloete, uittredende Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, het gesê hy ken Moyo reeds vir 'n geruime tyd. “Sy is 'n uitstekende persoon vir hierdie pos by die Universiteit. Ek wens haar alle voorspoed toe; ek kan belowe dat sy haar uiterste bes sal doen en dat sy die Universiteit sal help om vorentoe te beweeg."

Prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, het die jongste nuus oor die ondersteuningstrukture gegee wat die US besig is om in werking te stel ná onlangse voorvalle van selfdood in koshuise. Hy het gesê daar is 'n gebeurlikheidskomitee op die been gebring wat die kwessie van geestesgesondheid ondersoek.