Skip to main content

PANGeA-Ed gee hupstoot vir akademiese navorsingskapasiteit in Afrika

Lynne Rippenaar-Moses
27 September 2016

Die Partnership for Africa's Next Generation of Academics (PANGeA), 'n netwerk van agt toonaangewende Afrika-universiteite wat op die uitbreiding en bevordering van doktorale opleiding en kundigheid in die lettere, geesteswetenskappe en sosiale wetenskappe op die kontinent fokus, het 'n nuwe opleidings- en vaardigheids-ontwikkelingsprogram, PANGeA-Ed, bekend gestel. Anders as enige ander opleidingsprogram op die vasteland, bied PANGeA-Ed hoëgehaltekortkursusse en -werkswinkels in navorsings- en vaardigheidsontwikkeling oor die agt vennootskapuniversiteite heen, en bywoning is gratis. Hierdie aankondiging is op Dinsdag, 27 September, tydens die bekendstelling by die Makerere Universiteit in Uganda gemaak.

PANGeA is in 2010 deur die Universiteit van Botswana, die Universiteit van Dar es Salaam in Tanzanië, die Makerere Universiteit in Uganda, die Universiteit van Malawi, die Universiteit van Nairobi in Kenia, en die Universiteit Stellenbosch in Suid-Afrika gestig. Vier jaar later het die Universiteit van Ghana en die Universiteit van Yaoundé I in Kameroen by die konsortium aangesluit. Die oogmerk met die netwerk is om die ontwikkeling van hoër onderwys in Afrika te versterk deur geleenthede te skep vir samewerkende navorsing en kennisuitruiling tussen vennootinstansies, voltydse doktorale studie en, in die langtermyn, die instelling van gesamentlike doktorale graadprogramme spesifiek in die lettere, geesteswetenskappe en sosiale wetenskappe.

Doktorale onderwys en opleiding is krities in 'n wêreld waar kennis 'n beduidende kommoditeit geword het. Studies dui daarop dat PhD-gegradueerdes wat belangrike menskapitaal versamel het, nie alleen deur onderwys nie maar deur die aanleer van oordraagbare vaardighede, die sleutel bied tot die verjonging van verouderende professorate, personeelvoorsiening aan die snelgroeiende hoëronderwysarena in Afrika, die uitbreiding van navorsing, en die skepping van kennisgebaseerde ekonomiese groei.

Gedurende die afgelope sewe jaar kon verskeie studente oor Afrika heen, sowel as akademici aan PANGeA-vennootuniversiteite, voltydse doktorsgrade deurloop via die PANGeA- doktorale beursprogram wat in die Nagraadse Bestuurskool van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die US gehuisves word.

Sedert die doktorale beursprogram in 2010 ingestel is, het PANGeA-vennote altesaam 66 kandidate vir 'n PhD aan die US genomineer. Tot dusver het 36 hulle studie voltooi en na hulle akademiese poste by tuisuniversiteite teruggekeer, waarvan 81% die graad in drie jaar of minder behaal het.

Alhoewel dit 'n groot prestasie is, sê die voorsitter van PANGeA, prof Edward Kirumira van die Makerere Universiteit, dat 'n besluit geneem is om ander weë te ondersoek om meer menskapitaal te lewer en die vaardighede en loopbaangereedheid van universiteitspersoneel in die netwerk te verbeter.

"By die PANGeA-raadsvergadering in Junie 2015 het die sekretariaat voorgestel dat 'n nuwe inisiatief ingestel word wat 'n aanvullende program vir die suksesvolle doktorale beursprogram sal wees. Ná uitgebreide gesprekvoering het die PANGeA-raad 'n eenparige besluit geneem ten gunste van die voorgestelde planne vir die instelling van 'n opleidings- en vaardigheidsontwikkelings-program wat die tekort aan vaardighede en opleiding in hierdie navorsings- en akademiese omgewings sal aanvul deur op die ontwikkeling van navorsingskapasiteit aan elke PANGeA-vennootkampus te fokus. Dit sal terselfdertyd toegang tot die netwerk verbreed. Opleiding sal by die vennootskapinstansies gegee word en sal op die instansies se behoeftes gegrond wees," het hy gesê.

Die program bestaan uit kortkursusse en werkswinkels wat oor drie dae strek en fokus op die ontwikkeling van verskeie mensgerigte vaardighede soos akademiese skryfwerk, riglyne vir befondsing en/of navorsingsvoorstelle, en integriteit en etiek in navorsing, meer gespesialiseerde navorsingsopleiding, waaronder kwantitatiewe en kwalitatiewe dataontleding; (kritiese) diskoersontleding; gemengde navorsingsmetodes; maatskaplike opnames; en etnografiese navorsing, om maar 'n paar te noem.

Met finansiële steun deur die Robert Bosch en Gerda Henkel-stigting sal altesaam 50 kortkursusse en werkswinkels in die volgende vyf jaar deur middel van PANGeA-Ed aangebied word.

"Die PANGeA-netwerk het besef daar bestaan 'n behoefte nie net om doktorale gegradueerdes te lewer nie, maar ook om die vaardigheidstekorte aan te pak en 'n betekenisvolle belegging in menskapitaal binne hierdie intellektueel-diverse netwerk te maak. Hierdie program is 'n verdere manier om Afrika se talent en menskapitaal uit te bou en te behou," sê Kirumira.