
Oud-Matie kry hoogste punte ter wêreld
Oud-Matie Devin Kruger het wêreldwyd die gesamentlike eerste plek behaal in die internasionale eksamen in Februarie vanjaar van die Geoktrooieerde Instituut vir Bestuursrekenmeesters (CIMA).
Devin is gister (11 April 2019) van sy prestasie in kennis gestel deur me Nital Patel, Spesialis: Eksamenprosesse, Bestuursrekeningkunde, van die Londengebaseerde Geoktrooieerde Instituut vir Bestuursrekenmeesters.
Kruger, wat oor die afgelope 16 maande al die vereiste professionele eksamens van CIMA afgelê het, het sy laaste eksamen – in strategiese gevallestudie – in Februarie geskryf ten einde aan die vereistes vir die professionele kwalifikasie van Geoktrooieerde Globale Bestuursrekenmeester te voldoen.
Nadat hy aan Glenwood House Kollege in George gematrikuleer het, het Kruger vir die BCom-graad in Bestuursrekeningkunde by Stellenbosch Universiteit ingeskryf. By voltooiing van sy BComHons (Bestuursrekeningkunde) in 2017, het hy met sy leerkontrak in bestuursrekeningkunde by Moore Stephens Bestuursdienste in Stellenbosch begin.
Prof Ronel du Preez, visedekaan: Leer en Onderrig van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het hom gelukgewens en gesê: “Dis 'n buitengewone prestasie. Wel gedaan, Devin!"
“Geluk ook aan die personeel wat deel was van Devin se studiereis. Die Fakulteit is trots op die prestasies van sy studente en alumni, asook op die toewyding van die personeel wat hulle ondersteun het."