
Opwindende konserte by Klaviersimposium
Kaapstad se voorste orkes, die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO), sal vir die eerste keer by die Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium optree.
Die orkes sal begeleiding verskaf aan die finaliste van die gesogte Hennie Joubert Klavierkompetisie, wat van 14 tot 18 Maart gehou word en deel vorm van die tweejaarlikse simposium.
Tien finaliste van regoor die land is gekies om as semi-finaliste mee te ding vir die vyf finaliste-posisies. Die wenner sal R22 000 se prysgeld ontvang, asook die Hennie Joubert-trofee en 'n goue medalje.
Die tweede prys is R15 000 en 'n silwer medalje, terwyl die derde prys R10 000 en 'n brons medalje is. Kategoriepryse sal ook toegeken word.
Die vyf finaliste sal die geleentheid hê om een beweging uit 'n klavier-concerto saam met die KFO te speel onder leiding van maestro Corvin Matei. Die finaliste-konsert is Vrydag (18 Maart) om 20:00 in die Endlersaal van die Universiteit Stellenbosch se Konservatorium.
Die Klaviersimposium het in alle erns op Woensdag (16 Maart) begin. Oor die volgende vyf dae (tot Sondag 20 Maart) sal klavierstudente van regoor die land meesterklasse en lesings ontvang van sommige van die beste klavierpedagoë in Suid-Afrika.
Drie internasionaal bekroonde pianiste – die Russies-Israeliese Ilya Friedberg, en die Amerikaners Antonio Pompa-Baldi en Nicholas Phillips – sal saam met die Suid-Afrikaners deel wees van die simposium se fakulteit.
Vir musiekliefhebbers is daar 'n fees van konserte – beide etenstyd- en aand-optredes.
Die fakulteitslede sal op 17 Maart op die verhoog wees vir 'n konsert met klavierwerke soos Chopin se Nokturne in E major Op.62 No.2, Debussy se "Ondine", Prokofiëf se Sonate No.7 Op.83, asook 'n Prelude van die eietydse Russiese komponis Nikolai Kapustin (gebore 1937).
'n Solo-uitvoering deur Pompa-Baldi kan op 19 Maart gehoor word wanneer hy die Holberg-suite en Sonate Op.7 van Grieg, asook Ses Etudes Op.23 van Anton Rubinstein speel.
Die Simposium se konsertreeks eindig op 20 Maart met die "Klavier Extravaganza" – met tien klaviere op die verhoog! In hierdie konsert sal fakulteitslede werke vir twee, drie, vier en ses klaviere uitvoer. Die aand word afgesluit met Rossini se Wilhelm Tell-ouverture wat op tien klaviere gespeel word.
- Kaartjies vir die konserte is by Computicket te koop. 'n Feeskaartjie, inskrywings vir deelnemers en toeskouers, asook 'n dagkaartjie kan by Fiona Grayer by die Departement Musiek by ( 021 808 2358 bespreek word. Vir 'n gedetailleerde program van die simposium besoek www.pianosymposium.co.za.