
Opvoedkundige leierskap behoort billike regstelling en transformasie te bevorder
Indien opvoedkundige leierskap deur ʼn besorgheid vir openbare verantwoordelikheid en sosiale geregtigheid geïnspireer kan word, sal dit toelaat dat opvoedkundige gesprekke op respek vir ander en vir verskille, kritiese verbeelding, en beredenerende demokrasie fokus.
Dít is een van die belangrike insigte van 'n nuwe boek deur dr Nuraan Davids en prof Yusef Waghid van die Departement Opvoedingsbeleidstudie aan die Universiteit Stellenbosch.
Hul boek Educational Leadership in Becoming: On the potential of leadership in action is onlangs deur Routledge in die Verenigde Koninkryk uitgegee.
Die skrywers sê hierdie werk poog om opvoedkundige leierskap in sy huidige vorm te herbedink, om enkele heersende uitgangspunte rakende opvoedkundige leierskap weer in oënskou te neem, en om 'n uitgebreide siening daarvan in terme van die postmoderne idees rakende dit wat nog moet plaasvind (potentiality) en dit wat in wording is (becoming) aan te bied.
As 'n herbesinning van opvoedkundige leierskap in sy huidige vorm, poog die boek "om die kwessie van opvoedkundige leierskap aan te spreek as 'n oopstel van ruimtes vir kritiek en beredenerende demokrasie".

"Dit brei ook bestaande opvattings van getransformeerde opvoedkundige leierskap uit en fokus op praktyke soos betrokkenheid, kritiek, diepgaande leer, teenwoordigheid van die self, en die kweek van waardigheid, vertroue, integriteit en verantwoordelikheid."
Volgens die skrywers wil die boek wys dat verskeie teorieë en modelle oor opvoedkundige leierskap nie daarin slaag nie om mense verantwoordelik te laat optree nie. Hierdie teorieë en modelle spreek ook nie kwessies soos globalisering (en demokratisering) en billike regstelling en transformasie met betrekking tot die voorste skole en universiteite aan nie.
Hulle sê die boek is geskryf as gevolg van 'n groeiende ontevredenheid met Suid-Afrikaanse universiteite en skole wat geswig het voor die neoliberal-geïnspireerde idee van onderwys as ʼn produk op die mark.
"So 'n opvatting beskou universiteite en skole as bronne van wins en studente as verbruikers van 'gekommodifiseerde' kennis wat opgelei en gesosialiseer moet word as tegnici van leer om deel te word van die markgedrewe werkkultuur."
Die skrywers meen opvoedkundige leierskap behoort beoefen te word as leierskap in wording om die potensiaal van leierskap in aksie te bevorder. Met ander woorde, die poging deur opvoedkundige leierskap om die kompleksiteite en uitdagings in universiteite en skole die hoof te bied lê in 'n meer genuanseerde siening van wat dit beteken om in wording te wees.
Hulle voeg by dat die boek in die verband die etiese dimensie van opvoeding en opvoedkundige leierskap beklemtoon.
"Dit sal hopelik ook opvoedkundige leiers aanspoor om meer verantwoordelikheid vir hul optrede te aanvaar en intellektuele risiko's te neem om hul opvoedkundige aanbiedinge in ooreenstemming met 'n diepe besorgdheid vir sosiale geregtigheid te herbedink."
Die skrywers sê almal wat belangstel in onderwys, opvoedkundige leierskap, en neoliberale agendas se impak op onderwys en die samelewing sal aanklank vind by die boek.
Hulle voeg by dat voornemende onderwysers wat 'n Nagraadse Onderwyssertifikaat wil doen en diegene in BEd Honneurs- en M.Ed-klasse, waar opvoedkundige leierskap en -bestuur onderrig word, by die boek sal baat.
- Educational Leadership in Becoming: On the potential of leadership in action kan by Routledge bestel word. Dit is ook aanlyn beskikbaar by https://www.amazon.com/.
Foto 1: Pixabay
Foto 2: Omslag van Educational Leadership in Becoming: On the potential of leadership in action.