Oorweeg gerus minder stikstof op Wes-Kaapse canolalande, wys PhD-studie
Die meeste Wes-Kaapse graanprodusente wat ook canola aanplant, kan gerus minder stikstofbemesting tot hul canolalande toedien as wat hulle tans doen – en sodoende heelwat spaar. Dis 'n positiewe gevolg van die beginsels rondom bewaringsboerdery wat hulle al dekades lank toepas. Hul grond is daarom nou meer “gesond" en van nature meer stikstofry, en bevat meer “goeie" mikrobes. So sê dr Izané Crous, wie in Desember haar doktorsgraad in agronomie deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit AgriWetenskappe verwerf.
Haar studie is die eerste van sy soort wat die reaksie van Suid-Afrikaanse canola op verskillende stikstofpeile evalueer, en dus die stikstofbehoeftes van canola oorweeg wat in die Wes-Kaap se graanproduserende streke geplant word.
Dr Crous is werksaam as garskenner vir ABInBev by hul navorsingsplaas in Caledon in die Overberg. Sy het tussen 2016 en 2019 proefnemings uitgevoer in vyf belangrike Wes-Kaapse streke waarin canola verbou word, naamlik Darling, Porterville, Riversdal, Moorreesburg en Riviersonderend.
Sy het daarom boere waarmee sy saamgewerk het, bedank vir hul raad en ondersteuning: “Hulle was my belangrikste mentors langs die pad."
Haar studie is uitgevoer onder leiding van dr Johan Labuschagne van die Wes-Kaapse Departement van Landbou en dr Pieter Swanepoel van die US Departement Agronomie, in die Fakulteit AgriWetenskappe. Haar veldnavorsing is befonds deur die SASOL Landboutrust en die Wes-Kaapse Departement van Landbou, en deur studiebeurse van die Proteïen Navorsingstigting, Southern Oil Bpk.
“Die vermindering in die stikstofbemestingsbehoeftes van canola is 'n positiewe gevolg van produsente se dekades lange toepassing van basiese beginsels van bewaringslandbou. Sodoene is die organiese koolstofinhoud van die grond en mikrobiese aktiwiteit daarin onder meer verhoog. Die gevolg is dat anorganiese stikstof in die grond vrygestel word. Daarom het die plante deesdae minder kunsmis-toegediende stikstof nodig om 'n sekere opbrengs te lewer," verduidelik dr Labuschagne.
Canola in die Wes-Kaap
Die eerste canola (Brassica napus L.) is in 1993 in die Wes-Kaap aangeplant. Dié verlangse lid van die koolfamilie word onder meer gebruik vir die produksie van olie en veevoer. Sedert die 1990's het produksie van 400 hektaar tot omtrent 75 000 in 2020 (volgens die 2020 SOILL Yield Survey), alles in die Wes-Kaap, gestyg. Vanjaar is sowat 95 000 hektaar aangeplant, sê dr. Crous.
Graanboere plant dit as wisselbougewas, om moontlike siektes en onkruid te beheer. In die proses word toekomstige graanoeste verbeter. Nadat die saad geoes is, word oorblywende plantmateriaal op die lande gelos – 'n belangrikste beginsels waarvolgens bewaringsboerdery bedryf word – of soms gebaal. Oor die jare het die aanplant van canola sodoende onder meer gehelp om die toestand van grond in graanproduserende gebiede merkbaar te verbeter, en te verseker dat dit meer voedingstowwe (insluitend stikstof) bevat.
Weens die toepassing van bewaringsboerdery en die ooreenkomstige styging in stikstofvlakke in die grond sê dr Crous dat produsente toenemend fyn moet kyk dat hulle nie te veel van dié voedingstof toedien nie.
Wenke
Stikstof is een van die belangrikste voedingstowwe wat nodig is om 'n goeie opbrengs te verseker. Dit kan egter nogal 'n stewige uitgawe wees. Te veel daarvan is egter nie goed vir 'n plant nie. By canola kan dit plantgroei en die lewering van saad en olie belemmer. Dr Crous wys uit dat te veel stikstof in die grond ook nie noodwendig groter opbrengste beteken nie, maar eerder die omgewing skade kan aandoen én produsente se winste sny.
Dr Crous sê daarom daar moet mooi besluit word oor hoeveelheid stikstofbemesting toegedien word, en ook watter bron van stikstof (hetsy een wat nitraat, ammonium, ureum met of sonder 'n urease-inhibeerder bevat) gebruik word, 'n spesifieke gebied se klimaat en grondtoestand in ag moet neem.
“Dis veral belangrik om nie te veel stikstof toe te dien in droë jare nie," lig sy uit.
Haar studie is die eerste wat die stikstofbehoeftes van canola spesifiek tot Suid-Afrika oorweeg. Tans gebruik plaaslike boere riglyne wat uit die plaaslike koringbedryf of vanaf Australiese canolaprodusente kom. Daarvolgens is 40 kilogram stikstof nodig om 1 ton canolasaad te lewer.
“Australiese grond en klimaat verskil egter van ons s'n," sê dr Crous.
- Dr Crous is werksaam as garskenner vir ABInBev by hul navorsingsplaas in Caledon. Sy is verantwoordelik vir die uitvoer van pro-aktiewe navorsing en die implementering van inisiatiewe wat verseker dat produsente die rou produkte wat nodig is vir die brou van bier, soos gars, so optimaal, volhoubaar en teen so 'n klein risiko moontlik kan verbou.