
Oogsorg in landelike gebiede verbeter met innoverende selfoontegnologie
"Gesondheidsorg word toenemend duurder en daar is ʼn vraag na doeltreffender gesondheidstelsels wat op ʼn beter standaard is." Dít is die mening van dr William Mapham, ʼn kliniese assistent by die Afdeling Oogheelkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.
Mapham het die Vula Oogheelkunde-selfoontoepassing, of app soos wat oor die algemeen na hierdie programme verwys word, in 2011 met behulp van selfoontegnologie ontwikkel. Vula is ʼn veilige mediese verwysingstelsel wat ontwerp is vir gebruik in gesondheidsorg.
Gesondheidswerkers gebruik hierdie selfoon-app om deur die regte ondersoekprosedures van ooggesondheidstoestande akkurate verwysings te verseker en om primêre gesondheidswerkers en spesialiste met mekaar in verbinding te stel deur middel van die geselsboodskapfunksie. Die direkte kommunikasielyn verseker dat die regte behandeling dadelik toegepas kan word, of dat die pasiënt na ʼn spesialissentrum verwys kan word.
Mapham is tans ingeskryf vir die MMed-kwalifikasie aan die US en het sy dissertasie – wat binnekort gepubliseer sal word – op Vula gebaseer. Sy doelwit is om uit te vind hoe die app gebruik word en wat die impak op verwysingstelsels is. Dit is in 2014 op drie plekke getoets, naamlik die Tygerberg-hospitaal in die Wes-Kaap en die Zithulele- en Mosvold-hospitale in die Oos-Kaap.
Daar word beplan om binne die afsienbare toekoms nuwe spesialisgebiede soos ortopedie en kardiologie by Vula in te sluit. Die Vula-app het oor die afgelope paar jaar ʼn hele paar toekennings ontvang, waarvan die onderstaande vanjaar ontvang is:
- Die tweede prys in die Wes-Kaapse Premier se Entrepreneurskap-erkenningstoekennings
- Die eerste prys in die Wêreldvolhoubaarheid-Entrepreneurstoekennings
- Die tweede plek in die Suid-Afrikaanse Openbare Sektor Innoveringstoekennings
- Een van ses pryswenners in die Afrika Entrepreneurtoekenning wat by 'n seremonie in Marokko oorhandig is
- Die SEED-toekenning vir 'n uitnemende maatskaplike aanvangsmaatskappy wat in Kenia oorhandig is
Die jongste ontwikkeling in hierdie suksesverhaal is die insluiting van 'n 3D-gedrukte toestel wat aan ʼn selfoon gekoppel kan word en die gesondheidswerker in staat stel om foto's van ʼn pasiënt se retina te neem. Met hierdie byvoeging kan dokters pasiënte vir diabetes toets en die optiese senuwee besigtig.
Die toestel is deur dr Hong Sheng Chiong van Ophthalmicdocs in Nieu-Seeland ontwikkel en dit is gedemonstreer tydens die Vula Round Table-werkswinkel wat in Oktober in Kaapstad gehou is. Dit kos minder as R400 om dit in 3D te druk in vergelyking met die hoër koste van meer as R100 000 van ʼn huidige retina-kamera.
"Ons kon tot op datum meer as 1 000 verwysings fasiliteer. Daar is ʼn groot databasis geskep wat moontlik vir opleidingsmateriaal gebruik kan word. Voorlopige navorsingsbevindings het aangedui dat gesondheidswerkers op ʼn geval tot geval-basis kan leer hoe om pasiënte te behandel sonder om onnodige verwysings te doen," het Mapham gesê.
"Vula is tans ʼn groeiende verwysingstelsel," sê Mapham, "en ons sien uit na die dag wanneer dit geïntegreer kan word in die Departement van Gesondheid se Aanlyn Elektroniese Rekordhoudingstelsel. Ons sal dan die verwysings en die voorspruitende behandeling met mekaar kan vergelyk."
Vula is beskikbaar by die Androïed- en Apple App-winkels en enigeen kan dit op 'n slimfoon aflaai, maar slegs geregistreerde gesondheidswerkers word toegelaat om gevalle na die spesialiste te verwys.
Foto: Die jongste ontwikkeling in die suksesverhaal van die Vula-oog app is die insluiting van 'n 3D-gedrukte toestel wat aan ʼn selfoon gekoppel kan word en die gesondheidswerker in staat stel om deur 'n pasiënt se pupil na die optiese senuwee te kyk en 'n foto daarvan te neem.
Vir meer inligting, kontak James by [email protected]
Hierdie artikel het in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se digitale publikasie, VIVUS, verskyn. Besoek www.sun.ac.za/FGGWpublikasies om in te teken.