Skip to main content
Ontmoet Patsy Oosthuizen: #MyTygerMaties60

Ontmoet Patsy Oosthuizen: #MyTygerMaties60

FMHS Marketing & Communications
15 Augustus 2016

​As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Patsy Oosthuizen.

Patricia Oosthuizen kan nie kook óf bak nie. "Ek verbrand byna alles waaraan ek raak!" skerts sy. Sy kan egter vergewe word vir dié gebrek - haar talente lê duidelik elders. As matrikulant van Hoërskool Langenhoven in Riversdal het sy verlede jaar agt onderskeidings behaal en spandeer sy elke dag twee tot drie ure agter die boeke. Dan speel sy nog boonop hokkie en sokker en hou haarself fiks deur te draf. Waar moet sy dan tyd kry om haar kombuisvaardighede te beoefen?

Patsy (soos almal haar beter ken) kan aan niks anders dink wat sy sal wil doen as om ’n dokter te wees nie. Dit loop in haar bloed: beide ma Emma en pa Christaan het medies studeer by Universiteit Stellenbosch. En nou volg sy in hulle voetspore as eerstjaar MBChb-student.

Volgens haar is die doel van die lewe om iets vir ander te beteken en dit terselfdertyd te geniet. Juis daarom wil sy na haar studies vir ’n tyd saam met Dokters Sonder Grense (MSF) werk. "Daarna sal ek in die platteland wil werk en later met ’n gesin begin."

Meer oor Patsy:
  • As jy ’n boodskap op advertensiebord op die snelweg kan sit, wat sal daarop staan? “Vandag is net ’n paragraaf. Dis nie jou hele storie nie.”
  • Wat is die verskil tussen goeie werk en uitstaande werk? “Die gewilligheid om harder te werk as almal rondom jou.”
  • Gunsteling fliekkarakter? “Sherlock Holmes. Hy is eksentriek en homself en hy doen nie speurwerk vir betaling nie, maar omdat dit hom interesseer en hy mense wil help.”
  • Wat is jou beste eienskap volgens jou ouers? “Om alles aan die kant en in orde te hou.”