
Ontmoet Nicola Hunter: #MyTygerMaties60
As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Nicola Hunter.
“Die werklike siekte waarteen ons baklei is nie in ons selle of weefsel nie, maar in ons samelewing.” Dít glo Nicola Hunter is die grootste uitdaging wat die mediese professie moet oorkom.
Hunter, ’n eerstejaar MB,ChB-student by die Universiteit Stellenbosch, glo gesondheidsorg en opvoeding is die sleutels tot ’n beter land.
Na haar studies sal sy wil terugkeer na die Oos-Kaap (sy kom oorspronklik van Grahamstad af) en in die plattelandse gemeenskappe daar werk. “Ek sal teen daardie tyd ook graag isiXhosa wil kan praat.”
Ná sy begin opgemerk het hoeveel swaarkry daar is, het sy besluit om iets te studeer wat haar sal toelaat om iets sinvol te doen en ’n impak op mense se dag-tot-dag lewens kan maak.
Sy sê dis te danke aan haar grootouers se harde werk en spaargeld dat sy nou die geleentheid het om haar droom te volg.
Hoewel Hunter nie daarin glo om volgens ’n enkele lewensleuse te leef nie, glo sy wel daarin om voluit te werk én voluit te speel. “Ek wil net leer, groei, ontdek en avonture aanpak.”Vinnige V&A
- Is sosiale media voordelig of ’n euwel? “Dis lekker vir wanneer jy wil sien wat ander mense aanvang, maar dit is heeltemal te verslawend en neem te veel tyd op.”
- Boodskap aan volwassenes? “Aanvaar asseblief die nuwe generasie, veral julle kinders, vir wie hulle is. Wees vrygewig as dit kom by geleenthede uitdeel en om hulle foute te vergewe – ons almal moet iewers begin!”
- Wie beskou jy as suksesvol? “JK Rowling. Sy het met niks begin nie, maar aangehou om haar passie te koester. Dit het daartoe gelei dat sy die wêreld iets kon gee wat uniek en fantasties is.”